Die fees vind van 30 Januarie tot 2 Februarie plaas. Die hooffeesterrein sal weer die Santos-karavaanpark wees, terwyl die motorsportgimkana by die De Bakke-parkeerterrein gehou sal word.
Die motorsportgimkana, wat op 1 en 2 Februarie gehou sal word, is besig om in een van die voorste motorsportgimkanas in die land te ontwikkel, en inskrywings is al uit verskeie dele van die land vir die 2014-byeenkoms ontvang.
Benewens die verhoogprogram, kan daar uitgesien word na nog ‘n vertoning van die Eqstra-kunsvliegvertoonspan, wat mense verlede jaar na hul asems laat snak het met hulle toertjies in hul Harvard-vliegtuie oor die baai.
Die lugskou sal weer ‘n interessante verskeidenheid vliegtuie, onder meer ‘n Hunter-vegvliegtuig, insluit. Die Wes-Kaapse kunsvliegkampioenskappe sal ook saam met die fees val.
Die aanduidings is dat meer vlotte as verlede jaar aan die straatparade sal deelneem. Die Polisie-orkes, asook hul berede afdeling, sal aan die fees deelneem, asook veteraanmotors en –trekkers.
Behalwe bogenoemde, sal die SA Polisiediens weer statiese uitstallings en verskeie demonstrasies by Santosstrand aanbied.
Die Indonesiese Konsulaat-Generaal in Kaapstad het ook weer hul deelname aan die fees, in die gees van die feestema van 'Waar Kulture Ontmoet', bevestig.
Daar sal ‘n biertent by die feesterrein wees, en sowat 50 stalletjiehouers het reeds plek by die fees bespreek. Daar sal ook weer uitstallings van veteraanmotors- en trekkers wees.
Die fees word deur die Mosselbaaise Munisipaliteit gekoördineer, en aangebied om die dorp te bemark en die plaaslike ekonomie te help stimuleer gedurende die stiller tye van die jaar.
