Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Naomi Stander is op 97 een van die oudste inwoners by Ou Meule wat die entstof teen Covid-19-ontvang het.
Naomi, een van agt kinders, wat almal reeds oorlede is, het al 'n paar pandemies in haar leeftyd oorleef.
Sy spog met vyf kinders, een oorlede, ses kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Sy het op haar 96ste verjaardag 'n paar danspassies gemaak en het tot twee maande terug nog in 'n woonstel by Ou Meule gewoon. Sy loop deesdae met 'n kierie, het swak sig en haar gehoor is ook nie meer so skerp nie.
Fotogalery: Riversdal tehuis-inwoners word ingeënt
"Ek kan nie meer lees nie, maar ek kan darem nog radio luister en musiek geniet. Ek is soms vergeetagtig en dan voel ek soos iemand wat die bobbejaan agter die berg gaan haal. En wanneer jy daar aankom, is die bobbejaan al weg," skerts sy.
Naomi is al 24 jaar lank 'n weduwee. Sy lag baie en het 'n goeie sin vir humor.
Kyk 'n video hieronder:
"As ek 'n bietjie jonger was, het ek dalk nog flikkers gemaak, maar die mans hier is horingoud."
Sy verwys darem nie na Johan Strydom (80) nie. Dié voormalige skaapboer is nog rats en lewenslustig. Hy het 'n hartomlyning oorleef - én 'n stormtrap deur 'n bul.
"Jy moes daai bul gesien het na ek met hom klaar was: hy was steak!"
Dié wewenaar, 'n pa van twee kinders, een oorlede, is 'n kranige leser.
Die twee bejaardes verlang na besoeke van hul kinders en vriende en hulle sien uit na 'n samelewing en omgewing sónder Covid-19-inperkings.
Albei tehuise is weens veiligheidsredes steeds aan algehele inperkingsregulasies onderhewig. Die bejaardes wat die Pfizer-entstof ontvang het, moet weer in Julie ingeënt word.
Vorige artikel: Eerste Dal tehuis-inwoners kry entstof teen Covid-19
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'