Update
ALBERTINIA NUUS - 'n Saak van strafbare manslag word ondersoek na 'n 55-jarige man Dinsdag 3 Desember noodlottig beseer is toe hy op die N2 deur 'n vragmotor getref is.
Otto van der Mescht was van die dorp af op pad na Jireh Foods se verpakkingsaanleg by Resiesbaan toe hy op sy fiets omstreeks 07:40 by Soutpan raakgery is.
Volgens sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap is hy deur 'n Mercedes Benz-vragmotor wat vanaf Kaapstad na Mosselbaai onderweg was, getref.
Van der Mescht het op die toneel gesterf.
'n Inwoner van die dorp, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het gesê sy het op die ongelukstoneel afgekom. "Die liggaam het in die middel van die pad gelê. Wrakstukke van die fiets was oral gestrooi."
Volgens Zane Smith, bestuurder van Jireh Foods het Van der Mescht onlangs daar begin werk.
Arno van der Mescht, die oorledene se seun, kon nie vir kommentaar bereik word nie. Sy moeder is ook oorlede.
Die polisie doen 'n beroep op enigiemand met inligting oor die ongeluk om konst. Francois Fielies by die plaaslike speurtak by 028 735 8054 of 079 894 1615 te kontak.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'