HEIDELBERG NUUS - Die bejaarde pa van Heidelberg wat daarvan aangekla is dat hy na bewering sy dogter seksueel aangerand het, het weer twee keer vlugtig in die hof verskyn.
Die 75-jarige beskuldigde het Woensdag, 15 September op Swellendam verskyn, waar die saak tot Maandag, 20 September uitgestel is om in die Heidelberg-landdroshof te verskyn. Hy was tot sy verskyning in Buffeljagsrivier-gevangenis aangehou.
Volgens kapt Malcolm Pojie het sy inhegtenisname uit verskeie aanklagtes gespruit, waaronder seksuele aanranding, minagting van die hof na hy 'n beskermingsbevel teen hom verbreek het en ook van aanranding met die opset om ernstig te beseer, nadat hy glo die 43-jarige dogter met kookwater sou verbrand.
Laasgenoemde klagtes het gedurende Augustus gebeur.
Die beskuldigde is met streng voorwaardes op vryborg vrygelaat.
Volgens die voorwaardes moet hy die huis verlaat en vir hom ander blyplek kry, asook om nie met die klaagster of getuies in te meng nie.
Die saak is tot 26 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'