Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die lewe in Melrose Place is alles behalwe goud en glans.
Lucrucia Paulsen (35) van die informele buurt in die dorp is al sedert 2005 op die behuisingswaglys.
"Ons het 'n huis in Morestond gehuur, maar drie en 'n half jaar gelede wou die eienaar haar huis terughê," vertel die enkelma van 'n tweelingdogter en -seun van sewe.
"Ons was by die behuisingskantoor en die amptenare het geweet ons het nie blyplek nie. Al wat hulle gesê het is dat ons maar moet wag, ons is goedgekeur vir nooderwe. Uiteindelik het ons hierdie huis onwettig en uit ons eie sak opgesit - eers twee vertrekke en later nog drie."
Die huis bied nie voldoende skuiling teen die elemente nie. "As dit reën, loop die water deur die huis. Die munisipaliteit deel seile uit, maar as ek by die werk is, kry ek nie een nie. Die ergste is die gebrek aan dienste. Drie huise moet van een opslaantoilet gebruik maak. Dis onhigiënies, want nie almal maak skoon nie. Ons moet ook almal water by een buitekraan tap."
Sy maak self haar erf skoon, maar die toegegroeide sloot agter die ry houthuise is 'n probleem. "Die slange seil hier in - nou die dag was hier 'n yslike bruinkapel. En hier is die lelikste spinnekoppe - ek was al in die hospitaal na 'n knopiespinnekop my gebyt het."
Sy weet nie wanneer en of dit sal beter gaan nie. "Sover ek weet is daar nog nie beplanning vir huise in Riversdal nie."
Kyk 'n video hieronder:
Die grootste behuisingsnood in die streek word hier ondervind. Tydens 'n behuisingswerkswinkel wat op 25 September gehou is, het aan die lig gekom dat daar 'n groeiende behoefte aan behuising is. Informele woongebiede wat by al sewe dorpe tot stand gekom het, word stelselmatig met staatsbefondsing opgradeer. Daar word dringend besin oor hoe dit binne die goedgekeurde behuisingspyplyn en ruimtelike ontwikkelingsraamwerk hanteer moet word. Die bestaande kapasiteit van grootmaat siviele dienste soos water, riool en elektriese dienste is ook van kardinale belang.
Die waglys vir Hessequa lyk so:
Altesaam 5 195 inwoners is op die waglys vir behuising in die sewe dorpe in Hessequa;
Altesaam 3 334 van hulle val in die ouderdomsgroep 30 tot 59;
Altesaam 4 540 van hulle wag al langer as drie jaar vir 'n huis;
Riversdal ervaar die ergste nood
Die behuisingsnood in Riversdal is die ergste. Altesaam 1 985 inwoners, van wie 1 899 in die laagste inkomstegroep (R0 - R3 500) val, wag vir behuising. Altesaam 1 378 val in die ouderdomsgroep 30 tot 59, maar daar is ook 183 persone ouer as 60. Altesaam 1 810 inwoners wag al langer as drie jaar.
IN SHORT
Life is not easy in Melrose Place, says Lucrucia Paulsen, single mother of seven year old twins. She has been on the housing waiting list for a home since 2005, and eventually illegally built a wooden structure which is not weatherproof. She shares an outside toilet and water tap with the residents of three other homes. And the overgrown waterway behind the row of wooden structures, teems with snakes and spiders.
Hessequa-raad se kommentaar
'Die naam van Me. Paulsen reflekteer wel op die munisipale behuising databasis en die datum gekoppel aan die aansoek is September 2005.
Melrose Place maak deel uit van die raad se goedgekeurde behuisingspyplyn. Die pyplyn word jaarliks deur die raad gewerkswinkel, en herprioritisering vind plaas, indien nodig. Melrose Place word tans as 'n deurgangsgebied aangewend tot tyd en wyl behuisingsgeleenthede beskikbaar raak. Elke inwoner van informele gebiede is self verantwoordelik om sy/haar struktuur op te rig en die nodige instandhoudingsmaatreëls in plek te plaas ten einde die lewensduur van hul strukture te verseker.
Die raad is afhanklik van goedgekeurde befondsing vanaf die regering vir uitrol van behuisingsprojekte, en moet munisipaliteite aansoeke tot die effek indien vir oorweging deur die departement van menslike nedersettings. 'n Inkrementele benadering word gevolg, met ander woorde siviele dienste eerste, waarna topstrukture volg vir goedgekeurde begunstigdes.
Die diensstandaard ten opsigte van water en riool wat te Melrose Place gehandhaaf word, is hoër as die minimum standaard van 1:25 en 1:5. Die strewe is egter om dienste op elke erf te voorsien - daarvandaan die inkrementele benadering. Die norm in informele areas is gedeelde dienste.
Die raad se goedgekeurde geïntegreerde ontwikkelingsprogram, behuisingspyplyn en ruimtelike ontwikkelingsraamwerk rig ontwikkeling in Hessequa, en die voorskrifte daarin vervat, word noukeurig nagevolg.
Hessequa munisipaliteit bly steeds daartoe verbind om behuisingsgeleenthede binne die riglyne en beskikbare befondsing van die regering te fasiliteer.'
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'