GOURITZMOND NUUS - Die asbeskwellings in Gouritzmond duur skynbaar voort. Hierdie keer het die fokus na die munisipale stortingsterrein verskuif.
Lede van die gemeenskap beweer dat nadat konstruksie- en herstelwerk aan huise op die kusdorpie, as gevolg van 'n erge haelstorm in Mei vanjaar, 'n aanvang geneem het, daar groot hoeveelhede asbes in die stortingsterrein gelaat is.
Aanvanklik, was daar nie sekerheid of die gestorte materiaal asbes of Nutek, of beide is nie.
Volgens Rudelle van der Merwe van Safenet Africa, wat spesialiseer in die veld van nywerheidsveiligheid, ook betreffende die veilige verwydering van asbes, kan daar nie sonder meer aanvaar word dat die stortingsterrein vol asbes is nie. 'n Monster van die gestorte materiaal moet eers bekom word sodat dit geklassifiseer kan word.
In terme van die jongste wetgewing aangaande die verwydering van asbes wat in November 2020 gepromulgeer is, mag asbes slegs deur geakkrediteerde verwyderaars hanteer word, waarna dit ook in 'n spesifieke houer geplaas en beveilig moet word. Daar is ook net spesifieke fasiliteite in onder meer Kaapstad en Gqeberha waarheen versamelde asbes geneem moet word.
Navrae is aan die Hessequa-munisipaliteit gerig oor die toedrag van sake.
Kommentaar
'n Verteenwoordiger van Hessequa-munisipaliteit het twee vergaderings in Gouritzmond bygewoon waar die gemeenskap, asbeskontrakteurs, asook die asbesinspeksie-outoriteit, Safenet (Rudelle van der Merwe) teenwoordig was.
Tydens hierdie vergaderings het Hessequa-munisipaliteit die volgende voorwaardes, volgens wetlike vereiste, vir die storting van dak- en geutmateriaal op die stortingsterrein gestel:
- Geen asbesmateriaal mag gestort word nie.
- Indien 'n kontrakteur (aangestelde asbeskontrakteur) materiaal wil stort, moet 'n skriftelike verslag van 'n goedgekeurde laboratorium voorsien word om te bevestig dat dit nie asbes is nie.
- Slegs goedgekeurde asbeskontrakteurs mag dak materiaal wat nie asbes is nie, na die stortingsterrein vervoer.
- Geen asbesmateriaal sal op stortingsterrein toegelaat word nie.
- Asbeskontrakteurs moet asbesmateriaal in geslote houers berg totdat dit deur 'n gemagtigde kontrakteur na Vissershok in Kaap vervoer word.
"Die hekwagte is dienooreenkomstig ingelig. Hulle werk ook oor naweke om toesig te hou oor materiaal wat afgelaai word. Kontrakteurs het wel briewe by die hekwag ingehandig, maar was daar steeds in enkele gevalle asbesmateriaal teenwoordig," berig munisipale woordvoerder, Dulkcerine Budricks.
Die volgende addisionele stappe is toe ingestel:
- 'n Asbeskontrakteur en kundige wat asbes kan identifiseer, is ingeroep en op 24 Augustus is daar inspeksie op die stortingsterrein gedoen.
- Tydens hierdie inspeksie was daar wel asbes tussen die Nutek-materiaal op die terrein gevind.
- Die asbeskontrakteur het sy kundige werkers met die nodige beskermende kleredrag ingespan om die asbes vanaf die stortingsterrein na die munisipale werkswinkel te verwyder.
- Asbes is met dik plastiekseil bedek en word eersdaags deur die kontrakteur na Vissershok in 'n geslote, geseëlde houer vervoer.
- Die hekwagte is weer mondeling ingelig oor al die vereistes.
"Die asbesprobleem word dus volledig aangespreek soos bepaal deur wetgewing," sluit Budricks af.
'Ons bring jou die nuutste Gouritzmond, Hessequa nuus'