RIVERSDAL NUUS - Bekommerde inwoners van Hessequa het verlede Donderdag 'n vreedsame optog deur Riversdal se hoofstraat gehou om protes aan te teken teen die beweerde korrupsie met die Melkhoutfontien-behuisingsprojek.
Die protesoptog is deur twee gemeenskapsleiers, Adwin Saayman en Fred Carelse gereël en is, onder andere, deur ‘n paar lede die ANC ondersteun.
Die groupie van ongeveer 40 mense, onder begeleiding van die plaaslike verkeerspolisie en nooddienste, het rustig deur Heidelbergweg beweeg, afgestap in Kerkstraat na die plaaslike landdroshof om 'n petisie aan die onderburgemeester, Tinus van den Berg, te oorhandig.
Dié petisie en ook 'n geheuestokkie, waarin 'n inwoner van Albertinia 'n stemopname gemaak het van 'n gesprek met Grand Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, gaan ook aan Bheki Cele, minister van polisie, gestuur word.
Daarin word aantygings van korrupsie teen Riddels gemaak. Deel van die protes was ook om munisipale amptenare bewus te maak daarvan dat ‘n saak teen Riddles by die Stilbaai-polisie aanhangig gemaak is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’