Update
STILBAAI NUUS - Die nypende tekort aan 'n ambulansdiens in dié kusdorp kan binnekort iets van die verlede wees.
Tydens 'n inligtingsaand op Saterdag 7 September het die Carewell privaat hospitaal en die plaaslike Lions-klub planne vir die vestiging van 'n mediese reddingsdiens bekendgemaak.
Sozo Medical Rescue wat in Montagu onder leiding van George en Shaheeda Jansen ontstaan het, sal vanaf die perseel langs Carewell funksioneer. Die hospitaal het die eiendom onlangs aangekoop en bouplanne vir geriewe wat aan alle wetgewing vir ambulansdienste voldoen, vorder fluks. Verblyf vir ambulanspersoneel sal ook opgerig word. Die Lions help met fondsinsameling vir die projek.
Willem Botha, 'n direkteur van Carewell, het benadruk dat dit 'n gemeenskapsprojek is wat reeds baie wyer as die aanvanklike twee organisasies uitgekring het.
Volgens George Jansen het hy in die bykans 14 jaar as ambulansman in diens van die staat toenemend bewus geword van die tekortkominge in die staatsbestel. Hy en Shaheeda het 'n passie vir hulpverlening en so is die Sozo-diens gebore. Die naam is 'n Griekse woord wat beteken om te help, te red en gesond te maak. Al hul personeel is by die mediese raad geregistreer en ten volle opgelei om nooddienste en basiese mediese sorg te verskaf. Hulle spog met 'n reaksietyd van 10 tot 15 minute op uitroepe. Volgens hom maak hulle altyd eers seker of die probleem eerder tuis hanteer kan word om vir die kliënt geld te spaar. "Ons stap die ekstra myl, veral vir bejaardes," sê hy.
Kontak Lions se president Manie Rood by 082 687 1064 of Carewell-hospitaal by 028 754 1044 vir meer inligting.
A community project initiated by Carewell private hospital aims to have an ambulance and medical rescue service operating in the town as soon as operating facilities and living quarters for personnel have been completed. A fund raising campaign spearheaded by the local Lions club was launched at an information event about the new service on Saturday 7 September. Sozo Medical Rescue which was started by George and Shaheeda Jansen will operate on monthly subscriptions.
Lees 'n vorige artikel hier: Ambulansdiens binnekort 'n werklikheid vir Stilbaai
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'