HESSEQUA NUUS - Inwoners en vakansiegangers in die streek wat honde het, is onderhewig aan munisipale wetgewing en mag dit nie aanhou, tensy 'n 'n lisensiefooi wat deur die munisipaliteit bepaal is, betaal is nie.
Dit is volgens Artikel 20(1)(a) van Hessequa Munisipaliteit se Verordening Insake Openbare oorlaste en oorlaste wat spruit uit die aanhou van diere.
'n Kwitansie moet dan ook op aanvraag van 'n gemagtigde beampte vir sodanige betaling getoon word.
Hierdie tariewe word jaarliks hersien en word vir kommentare en insette ter tafel gelê.
Die publieke deelnameproses word gevolg voor tariewe jaarliks teen einde Mei finaal deur die raad goedgekeur word.
Hondelisensies is jaarliks voor einde Augustus betaalbaar. Kennisgewings in die verband word binne die munisipaliteit se kommunikasiebeleid versprei.
Die verordening wat hondelisensies reguleer is sedert 23 Maart 2012 reeds in plek en word so toegepas.
Bovermelde verordening word deur die wetstoepassingsdepartement as projek bestuur, waarvan die eerste fase die uitdeel van pamflette is om bewusmaking te bevorder.
Die opvolgfase is om die lisensies na te gaan en 'n tweede geleentheid te bied om die lisensie uit te neem. Die finale fase is om teen die honde-eienaar op te tree wat steeds in versuim is. "In alle opsigte word aan die honde-eienaar 'n billike kans gegee om 'n lisensie te bekom," verduidelik Johan Jacobs, munisipale bestuurder.
Die projek word in alle dorpe uitgerol.
Die jaarlikse begroting vir dierebeheer se uitgawes oorskry die inkomste by verre. Die munisipaliteit hanteer nie dierewelsyn nie - dit word deur onafhanklike organisasies gedoen, hoewel jaarliks vir bydraes tot spesiale sterilisasie of 'dip' projekte begroot word.
Die munisipaliteit se dierebeheerfunksie sluit onder andere in die skut van diere, uitsit van geskutte honde en katte wat nie opgeëis word nie of diere wat vrywillig oorhandig word deur deernishuishoudings met die versoek om die dier te laat uitsit.
Huishoudings wat 'n hond wil aanhou, se eiendom moet behoorlik omhein wees om te verseker dat die dier nie 'n gevaar of oorlas vir ander mense is nie, nie ander se eiendom en tuin beskadig nie of in openbare plekke en die straat afdwaal nie.
Die munisipaliteit het die bevoegdheid om enige persoon of klas van persone vry te stel van enige of al die vereistes en mag dit enige ander vereistes oplê wat dit as geskik beskou.
"Vakansiegangers sou byvoorbeeld 'n 'klas van persone' wees wat kwytgeskeld word van die uitneem van hondelisensies of die vereiste dat 'n vakansiehuis wat gehuur word, omhein moet wees.
Dit is voor die hand liggend dat 'n vakansieganger nie 'n gevaarlike groot hond wat nie binnenshuis gehuisves kan word, vry sal laat rondloop indien die erf nie omhein is nie.
Dit sal egter steeds van die besoeker verwag word om te alle tye ten volle beheer oor die dier uit te oefen, soos dat hy byvoorbeeld nie sonder 'n leiband in openbare plekke beweeg nie.
Art 19(2) van gemelde verordening bepaal dat niemand 'n hond binne 50 m vanaf 'n kennisgewing wat 'n hond se teenwoordigheid verbied mag bring, of toelaat dat dit daar gebring word nie.
Dit beteken daar is nie spesifieke afgesperde openbare oop ruimtes waar hulle vrylik en sonder 'n leiband mag beweeg nie. Daar is wel gebiede buite die blouvlagstrande en waar nie kennisgewingborde op strande aangebring is, waar geen wetstoepassing plaasvind nie.
Die hond mag egter steeds nie 'n oorlas vir ander wees nie.
Tariewe kan op die munisipale webtuiste www.hessequa.gov.za nagevors word. Vir verdere navrae oor die bewusmakingsprojek of aanhou van diere kontak die hoof van beskermingsdienste, Adneshel Voss by vossie@hessequa.gov.za of besoek die munisipale webtuiste.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'