RIVERSDAL NUUS - "Ek kon hom oopbek soen!" skerts Freek Adams, bekende oud-werker van Hoërskool Langenhoven wat verlede jaar ná 36 jaar se diens afgetree het.
Freek verwys na sy tydsgenoot Alfred Nameka, beter bekend as Whitey. Hulle word albei vanjaar 60 jaar oud.
Alfred het Freek se motorsleutel teruggevind nadat Freek sy sleutel Maandagmiddag, 17 Mei verloor het.
Alfred skerts oor sy bynaam: "Ek was glo baie wit toe ek klein was, maar eintlik was my pa 'n swart man."
Freek, wat steeds woelig is, het middagete se kant op 'n bankie op die middelmannetjie oorkant 'n bekende winkelgroep verpoos en 'n versnapering geniet.
Toe hy tweeuur se kant wou vertrek, kon hy nie sy motorsleutel opspoor nie. Onderweg na sy motor wat 'n entjie verder geparkeer was, voel hy in sy broeksak na die sleutel. Niks.
"Onmiddellik dink 'n mens iemand het jou dopgehou, jou sleutel opgetel en jou kar gekaap."
Gelukkig was Alfred ook oor middagete in die omgewing na hy 'n paar tuine in die buurt opgeknap het. Hy het toevallig op dieselfde bankie gaan sit waar Freek vroeër ontspan het.
"Toe sien ek die sleutel onder die bank op die middelmannetjie. Ek het rondgevra of iemand dalk weet wie se sleutel dit kon wees. Niemand het geweet nie. Toe besluit ek om die sleutel by die polisiestasie te gaan inhandig."
Freek het op sy spoor teruggeloop met die hoop om die sleutel op te spoor. Dit is toe 'n ánder weldoener hom vertel dat Whitey 'n motorsleutel opgetel het.
Op pad terug van die polisiestasie loop Alfred en Freek mekaar toe raak.
En toe gaan haal hulle Freek se motorsleutel daar.
Freek sê: "Ek is Alfred ewig dankbaar. Dit is 'n erge gedoente om 'n nuwe sleutel te laat sny. Om nie eens te dink om my kar terug te kry as iemand daarmee weggery het nie."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'