ALBERTINIA NUUS - Albertinia het vir die eerste keer in 'n lang tyd weer feesgevier met die aanbieding van die Albertinia Aalwyn Erfenisfees. Met dié fees het inwoners die dorp, wat in 1902 op die been gebring is, se 120ste bestaansjaar gevier.
Die laaste Albertinia-fees was in 2016.
Tinka Smal van die reëlingskomitee het gesê die dorp het die geld wat besoekers inbring en by plaaslike besighede bestee broodnodig.
"Dié kontantinspuiting is vir baie 'n reddingsboei. Ons het ook 'n privaat museum op die dorp wat besigtig kan word." Sy sê min dorpe kan met só 'n museum spog. "Hoewel motoriste Albertinia maklik kan mis en nie van die N2 af kan sien wat hier aangaan nie, bied die dorp baie vir toeriste."
Douwleen Conradie en Hugo Pieterse is vanjaar as die Mnr. en Mej. Alwyn 2022 aangewys. Daar was 'n spoggerige optog vanaf die sportstadion in Theronsville verby die NG Kerk.
By die versorgingsdienste kon die inwoners dié optog van hul vensters af bekyk en elke persoon in die optog is aan hulle voorgestel.
Dié trompoppies met hul helderkleurige rokkies het die oog gevang.
Daar was kosstalletjies, vir die kinders was daar kompetisies om aan deel te neem en bekende sangers soos Pieter Mohr, Blackie Swart en selfs plaaslike sangers het opgetree.
Michael Lindt het Sondag die fees afgesluit met eer en aanbidding.
Heelparty perderuiters in tradisionale drag het ook aan die optog deur Albertinia se strate deelgeneem.
Die groep het die veteraantrekkers bestuur wat aan die optog deur Albertinia deelgeneem het.
Nou wat is 'n optog deur die strate sonder 'n rooi trekker?
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'