Update
RIVERSDAL NUUS - Diefstal, geknakte knieë en ander beserings, 'n maagvirus en braking, beurtkrag, oponthoude en logistieke uitdagings het amper die akrobatiese danskompetisie vroeër verlede week verongeluk. Maar niks kon die dansers stuit nie.
Die danser, choreograaf en afrigter Anwyn Winterbach se dansakademie (AADA) in Stilbaai het veral uitstekend by die Integrated Artistic Acrobatic Association of South Africa se nasionale danskompetisie gevaar.
Altesaam 47 van haar studente was deel van 180 dansers van sewe dansskole regoor Suid-Afrika wat aan die kompetisie deelgeneem het.
Dié dansakademie het horde pryse in uiteenlopende dansafdelings ingepalm. Die studente se gemiddelde persentasie het tussen 80% en 85% gewissel.
Hulle is beloon met 23 eerste plekke, 29 tweede plekke en 12 derde plekke.
Anke Gildenhuys en Henrico Muller het 'n prys vir beste choreografie gewen.
Sestig van die 180 akrobate het vir nasionale kleure gekwalifiseer. Kleure word toegeken op grond van die deelnemers se solowerk, improvisasie, interpretasie en karaktersketsing. Hul sinergietegniek word ook as duo, trio, kwartet en in groepwerk gemeet.
Altesaam veertien van AADA se studente het nasionale kleur verwerf.
Elkeen het 'n kans gehad om uit te blink.
Die dansers het hul talent benut om betowering met atletiese vaardigheid, gimnastiese vernuf, tydsberekende dansdissipline en vernuftige, akrobatiese poetsing in tradisionele style, klassiek en modern, jazz en hip-hop te skep.
Die AADA-ensemble met Tasmine Loots, Leone Loots, Amia Loots, Mila van Niekerk, Henrico Muller, Danelle Roberts, Heather-Lee Hartwell, Mienke Barnard, Anwyn Winterbach, Anske-Marì van der Linde, Marli Matthee, Annica Weyers, Kiara Gray, Tegan Brits, Corina Brits, Chanté Gray, Kiara Foley, Kaymin Winterbach, Karli von Hagen, Klara van Wyk, Milanic Gunter, Bibi Joubert, Azayiah du Plessis, Meagan Steyl, Annika Griessel en Marnie Hansen. Afwesig: Annette Matthee, Obie Cronjé, Linda Muller, Gurd-lynn Rossow, Izabella de Kock, Skyler Hanekom, Emma Pretorius, Dané Cronje, Karla Brink, Leané Wright, Alana Prinsloo, Ruchelle Erasmus, Hadassah Botha, Amelie Lotterie, Tiffany Cordier, Mia van Jaarsveld, Carlene Cordier en Anke Gildenhuys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’