Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) in die Wes-Kaap het Vrydag 7 Junie 'n spesiale geleentheid vir sakekamers in die Suid-Kaap aangebied.
Tydens die geleentheid, wat by die gholfklub aangebied is, het dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHI, vir die lede van die sakekamers verduidelik hoekom dit belangrik is om inklusief te wees. Japie Gouws, voorheen verbonde aan die ATKV en nou voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, en Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap was die gassprekers. Stilbaai-sakekamer was die gasheer vir sakekamers van die Tuinroete en die Klein-Karoo en selfs so ver soos Bonnievale, Drakenstein en die Paarl.
"Die AHI moet 'n familie word - ons is een gemeenskap en besighede moet mekaar ondersteun," het Cilliers gesê.
Gouws het die rol van die sakekamer in die ekonomie van elke dorp beklemtoon. "Sakekamers kan nie meer soos voorheen voortbestaan nie - hulle moet meer inklusief wees en ook klein en informele sakeondernemings betrek."
Aandag moet aan die finansiële vermoë van 'n sakekamer gegee word en hulle moet begin kyk na alternatiewe bronne van inkomste, soos skole en tersiêre instellings, nasionale ondernemings soos banke, plaaslike privaat entrepreneurs, franchises, dokters, tandartse en versekeraars en selfs munisipaliteite en staatsdepartemente. "Landboubesighede en boerderye is die belangrikste deel van die ekonomie in landelike gebiede en baie boerderye is groter as baie sakeondernemings op die dorpe."
Hy het ook klem gelê op die insluiting van die informele sektor. "Ons moet na maniere kyk om uit te brei tot voordeel van hierdie sektor en werkskepping - daar is nie genoeg groot besighede en staatsdepartemente om vir almal werk te skep nie."
Sakekamers moet hul lede sinvol bedien deur inligting te verskaf. Hulle moet ook goeie korporatiewe bestuur en 'n etiese benadering binne die riglyne van die wet bevorder en die omgewing respekteer.
Swart het beklemtoon dat landbou as die sleutelrolspeler in die skep van werkgeleenthede in landelike gebiede beskou moet word. "Haal landbou uit die Wes-Kaap en wys my watter dorp bly staande," het hy gesê. "Boerdery is 'n besigheid waaruit die boer vir hom en sy werkers 'n lewe moet maak. Veiligheid is belangrik, want jy kan nie boer as jy heeltyd oor jou skouer moet kyk nie. Ons moet kyk na politiek, want dit bepaal ons daaglikse lewe." Water en klimaatsverandering is ook belangrike temas waarna gekyk moet word. "Boere moet betrokke raak by sakekamers, want daar word besluite geneem wat 'n invloed op hulle het."
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'