RIVERSDAL NUUS - 'n Bekende dominee van die NGK Riversdal-Wes, ds. Deon Beyers (65), het ná 40 jaar in die bediening, waarvan amper 30 jaar in Riversdal-Wes, die tuig neergelê - of, eerder in sy eie woorde besluit: "Let's call it a day."
Sy opvolger is van die NGK Betlehem-Efrata, ds. Tertius Lamprecht en sy vrou, Elize.
Ds. Beyers het grootgeword in Noupoort waar sy pa in daardie stadium apteker by die spoorweë was. Die Kaapse treine het altyd so 02:00 in die nag Noupoort binnegekom. Die spoorwegapteker moes die pille gee as dit nodig was en die dokter moes na die siekes omsien.
"My eerste herinnering as kind was dat jy die dominee net deur die dag of Sondae by die kerk gesien het. "Dis mos 'n lekker werk en net daar is die saadjie geplant. Ek wou nooit iets anders doen nie."
Na skool was hy op RAU en UP waarna hy in Pretoria navorsingswerk oor die Griekse taal, met die oog op die boek Romeine, gedoen het. Hy kry 'n beurs Switserland toe om verder te studeer in die Nuwe Testament, kerkreg en dogmatiek. Terug in Suid-Afrika het hy in kerklike taal gelegitimeer.
Beyers se loopbaan en gesin
In daardie jare moes die manne weermag toe gaan wanneer hulle klaar studeer het. Hy het vir twee jaar gegaan waar hy in die lugmag as kapelaan-generaal gedien het.
Ná sy weermagopleiding is hy met sy jare lange vriendin, Tjitske, op 18 Januarie 1986 getroud.
Hulle het drie kinders, Gihan, Eulante en Brion wat almal in Cathcart gebore is.
Hulle was 'n week getroud toe begin hul bediening in hul eerste gemeente, Cathcart, waar hulle sewe jaar sou bly.
In Julie 1993 is hy na Riversdal beroep. Die eerste Sondag wat hy in Riversdal-Wes gepreek het, het hy ook sy jongste, Brion, gedoop. Die oudste seun, Gihan Beyers, is 'n geoktrooieerde rekenmeester (CA), getroud met Simone wat onderwys gee en hulle het 'n dogter, Emma wat 18 maande oud is. Hulle woon die afgelope sewe jaar in Engeland.
Hul enigste dogter, Eulante Poggenpoel, gee onderwys by Laer Meisieskool La Rochelle. Sy is getroud met Salo Poggenpoel, wat 'n bestuurder by 'n in- en uitvoerbesigheid is. Hulle het twee kinders, Lané (gr. R) en 16 maand oue Esje.
Brion en sy vrou Anke is albei mediese dokters in Kenridge en hulle het 'n dogtertjie Bea.
Hoogtepunte
Die besluit van die gemeente in 2000 om die kerk se droom te vernuwe en die woord vreugde in te bring was die hoogtepunt in sy loopbaan.
"Dit was 'n ongelooflike mylpaal, want dit het vir mense gesê waarmee ons werk en waarheen ons werk. Dit definieer die kerk, omdat die Here gekom het sodat ons kan lewe, en lewe in oorvloed kan hê. En oorvloed beteken daar is vreugde."
'n Ander hoogtepunt vir hom was die bediening tydens Covid, alhoewel dit vir mense 'n laagtepunt was. Covid het hom geleer om op 'n nuwe manier te bedien. Volgens Beyers was dit bevredigend, alhoewel dit nooit die seer en hartseer kan vervang nie.
Met die toemaak van die kerk, het dit 'n mens vaardighede geleer wat jy nooit voorheen sou ontwikkel het as daar nie so 'n krisis was nie.
"Ek het oorweeg om vroeër af te tree, maar ek is bly ek het nie voor Covid nie want ek is 'n ander mens en rustiger. Dit was 'n negatiewe ervaring, maar dit het vir my persoonlik, en ek glo die gemeente ook op sekere vlakke ons deur die hartseer geleer om te fokus op die Here," vertel Beyers.
Beyers-egpaar se kinders en kleinkinders bymekaar.
Aftrede
Hy sê dat aftrede 'n wonderlike geleentheid vir jouself en jou gesinsverhoudinge is. "Jy moet vrede daarmee maak dat jy gaan aftree en reg wees daarvoor. Om nie daardie vrede te hê nie moet moeilik wees. Vrede dat jy oorbeweeg na 'n nuwe fase, maar dit is nie die einde van die lewe of bestaan daarvan nie.
"Daar is 'n paar goed wat jy in plek moet kry vir aftrede: "Jy moet vir jouself 'n nuwe ritme of program ontwikkel, 'n stokperdjie hê of iets waarmee jy jou kan besig hou en oop wees vir verandering asook die moeilikste vir mense. Jy kan nie daarteen skop nie.
Al is hy afgetree, mis hy veral om op Sondae te preek. Hy sal uithelp as hy beskikbaar is tussen reis en besoeke aan die kinders en kleinkinders.
Toekomsplanne
Hy sê as Tjitske klaarmaak met die onderwys, hulle altyd kan terugkeer na hul huis as 'n veilige ruimte wanneer hulle van een van hulle bucket-list reise af teruggekom het.
Hy voel dat dit belangrik is om ook jou eie, unieke mens-wees te behou na aftrede, sodat elkeen sy eie belangstellings kan uitleef en vir mekaar die ruimte kan gee om ten volle mens te kan wees.
Tjitske hou van naaldwerk en hy hou van boekskryf en tuinmaak. Vriendskappe is vir hulle belangrik en so ook die kinders en kleinkinders. Hy hou homself steeds besig en is onder andere voorsitter van die Langezicht-kompleks in Riversdal.
Hy moedig mense aan om rustig te leef en tevrede te wees met wie jy is en wat jy het. Hy herinner homself altyd om te onthou wat Habakkuk gesê het: Al is daar nie vye aan die bome nie, en al is daar nie graan op die lande nie, en al is daar nie koeie in die kraal nie, wees nogtans dankbaar want die Here is altyd daar.
Ds. Deon Beyers tree na 40 jaar in die bediening af.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'