STILBAAI NUUS - Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 30 Oktober 'n nuwe buurtwag in die dorp gestig.
Die stigting is deel van die Hessequa-tak se visie van 'n veilige omgewing waar alle inwoners hul deel kan bydra.
Die Goukou-plaaswag wat al verskeie suksesse behaal het, vorm ook deel van dié organisasie se veiligheidsnetwerk in die omgewing.
"Die nuutgestigte Stilbaai-buurtwag vorm deel van ons takstruktuur en wil die gemeenskap in samewerking met die polisie en ander plaaslike veiligheidsinstansies in tye van nood bystaan," sê Arno Greyling, AfriForum distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
David Olivier, die organisasie se veiligheidskoördineerder vir die Suid-Kaap het ná die stigting aan nuwe buurtwaglede opleiding in regsaspekte tydens patrollies gegee. Geakkrediteerde opleiding is een van die groot voordele wat AfriForum aan buurtwagte bied.
"Ek is baie opgewonde oor die stigting van ons buurtwag en nooi die gemeenskap uit om by ons in te skakel," sê Conrad Farrell, voorsitter van die nuwe buurtwag. "Ons kan die geveg teen misdaad nie langer op die skouers van die polisie alleen laat rus nie, ons moet self betrokke raak."
Enigiemand wat by AfriForum se veiligheidstrukture wil betrokke raak kan die woord Buurtwag na 45265 SMS vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'