Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - AfriForum se buurt- en plaaswag het Vrydag 4 Oktober in samewerking met die polisie aan 'n masssapatrollie deelgeneem.
Sowat 50 lede het omstreeks 18:00 by die gesamentlike operasionele sentrum (GOS) bymekaargekom.
Van daar het hulle in sowat 30 gemerkte voertuie onder begeleiding van ao. Chris Botha van die plaaslike polisie stadig deur Kerk- en Hoofstraat en woongebiede gery.
"Dit is 'n soort magsvertoon waarmee ons vir die inwoners van die dorp wil wys dat daar 'n groot groep mense is wat omsien na hul veiligheid in die dorp en in die landelike gebiede van die Hessequa-streek," het Johan Crous, voorsitter van die Goukou-buurtwag gesê.
Die groep het opgedeel om drie misdaadbrandpunte in die dorp te besoek, naamlik die stasie, Jurischpark by die ingang na die dorp waar die rolbalbaan geleë is, en die taxistaanplek in die middedorp.
By die stasie het Botha gesê die terrein is 'n plek waar misdadigers onder die mantel van die nag en dikwels ook helder oordag drink, dwelms gebruik en hulle skuldig maak aan moord en verkragting.
Kyk 'n video hieronder:
Dit was sterk skemer toe die groep by Jurischpark aangekom het om ondersoek in te stel na 'n groep mense wat onder 'n boom gesit het. Hulle is gewaarsku teen die gevare wat die afgesonderde park inhou, voor die insittendes van twee voertuie genader is om uit te vind wat hulle dié tyd van die aand in die park doen. Daar is op bottels drank beslag gelê. Die patrollie is voorafgegaan deur padblokkades by die Steg, waar 25 voertuie afgetrek is, en die Vetrivier, waar 15 voertuie afgetrek is. Volgens Crous is twee boetes van onderskeidelik R1 500 en R500 opgelê. "Ons neem nie die plek van die polisie in nie, maar ons is 'n verlengstuk van die polisiediens wat wil help om hul hande sterk te maak." Na die optog deur die dorp, is die plaaswag ontplooi na gebiede in die streek, onder meer Albertinia, waar veediefstal tussen die Langeberge en die N2 die afgelope ruk skerp toegeneem het.
"Dit is hoofsaaklik potslagters wat een of twee skape op 'n keer steel en nie sindikate wat hier besig is nie," het Willie Geldenhuys, voorsitter van die Goukou-plaaswag gesê.
AfriForum se buurt- en plaaswaglede is paraat en duld nie nonsens nie. Foto: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Afriforum wys hul duld nie nonsens nie
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'