Update
STILBAAI NUUS - Mossie Mostert van Stilbaai is Maandag 10 Oktober oorlede, 36 dae nadat sy vrou, Joy, gesterf het.
Die 91-jarige Mossie kon nie sy vrou se dood verwerk nie. Hulle was immers 'n maand kort van 70 jaar se getroude lewe toe Joy op 4 September oorlede is.
Hy het Maandagoggend nog, soos wat hy die afgelope meer as 20 jaar gedoen het, gimnasium toe gegaan vir 'n uur se oefening toe hy aan die einde van die sessie inmekaargesak en gesterf het.
Mossie het 'n vol lewe gehad met baie lekker herinneringe en hy het die laaste tyd baie van hierdie herinneringe opgeroep en met sy familie en vriende gedeel.
Hy het afgetree as hoofopmeter by 'n myngroep en hy en Joy het hulle in 1989 in Stilbaai gevestig waar hy hom besig gehou het met houtwerk, meestal meubels vir familielede, en hy was ook baie betrokke in die kerk. Die Stilbaai-bewaringstrust het hom vereer met erelidmaatskap vir die baie staptoere by Geelkrans wat hy vir hulle aangebied het. Hy het sy laaste Visrivier Canyon-staptoer op 80-jarige ouderdom gestap.
Hulle jaarlikse lang vakan-sies met die geliefde ou Cabson-karavaan het hulle na plekke toe gevat waar ander kampeerders gesukkel het om met hulle 4x4 boskaravane uit te kom. Sy geloof in die ou karavaan en sy leuse van "as daar twee spore is kan ek daar ry" het hulle altyd veilig by die huis gebring.
Mossie laat drie seuns, Nick, Fred en Lance, asook 'n dogter Laverne, 10 kleinkinders en 12 agterkleinkinders na.
Die familie beplan 'n privaat herdenking van sy lewe en sal daarna die oorlede egpaar se as saam strooi.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'