GOURITSMOND NUUS - Gouritsmond-inwoner Arieta Swart het Maandag, 19 Oktober haar 90ste verjaardag gevier en is by Voëlvlei VLV se afsluitingsfunksie vir haar besondere bydrae oor 'n tydperk van 68 jaar geloof.
As jong onderwyseres is sy "gedwing" om by die Vroue Landbou Vereniging aan te sluit, aangesien sy op Leeu-Gamka, 'n klein plekkie, begin het en alle vroue op die klein dorpie daaraan behoort het.
Deur die jare het sy in blommerangskikkings, houtsneewerk, borduurwerk en by uitstek, skilderwerk uitgeblink.
Haar skilderye is by die destydse Saambou Bank in die hoofkantoor uitgestal en sy het onder meer uitstallings gehou in die Sanlam Sentrum.
Arieta is steeds 'n aktiewe lid van Voëlvlei VLV. Haar orgidieë-kwekery is nóg 'n groot liefde en sy is ook veral gesteld op die bewaring van die omgewing. Sy is ook steeds 'n lid van die Gourits Bewaringstrust.
Daarby was sy vroeër 'n kranige hengelaar en spog met 'n kabeljou van 44kg wat sy met 'n 11kg lyn na drie ure se gespook uitgetrek het.
"Arieta is voorwaar 'n vrou op wie Voëlvlei VLV met reg trots is," sê Elize Locke, voorsitter van VLV Voëlvlei, Gouritsmond.
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'