Update
STILBAAI NUUS - Die twee persone wat Vrydag 2 November ongeveer 13:40 noodlottig beseer is in 'n botsing op die R305/Hectorskraal-afrit by Droëvlakte, se name is bekendgemaak.
Hannes (Hansie) Baker en Adriaan Pieterse het op die toneel aan hul beserings beswyk. Volgens 'n omstander op die toneel het Pieterse langs die pad gestaan toe die botsing plaasgevind het. Hy het blykbaar klaar gewerk en het vir sy geleentheid huis toe gewag toe een van die voertuie hom tref.
Twee voertuie en 'n vragmotor was in die botsing betrokke, maar dit is nie seker wat presies gebeur het nie. "Die polisie op Stilbaai ondersoek 'n saak van strafbare manslag nadat twee persone tydens 'n motorvoertuigbotsing waarin drie voertuie betrokke was, oorlede is.
Die oorsaak van die botsing word tans ondersoek," het ao. Morné D'Emiljo by navraag aan Suid-Kaap Forum gesê. Hy wou geen verdere inligting verskaf nie, omdat dit blykbaar die ondersoek kan belemmer.
Die vragmotorbestuurder en ander insittendes van die taxi het op die oog af nie beserings opgedoen nie, maar is na Riversdal-hospitaal vir observasie geneem. Verkeer moes vir geruime tyd deur verkeerspersoneel herlei word tot die taxi, wat in die middel van die R305 op sy kant gelê het, verwyder kon word.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'