Update
ALBERTINIA NUUS - 'n 14-jarige seun van Albertinia is Sondagoggend, 9 Oktober, ongeveer 04:00 glo deur 'n 17-jarige seun met 'n mes noodlottig gewond.
Simphiwe Jacobs, 'n graad 8-leerder by Okêr Primêr het op die toneel gesterf, 'n dag voor sy 15de verjaarsdag.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaap polisiewoordvoerder het die voorval bevestig. "Hulle was blykbaar in 'n stryery by 'n woning in Vader Henry Olckerstraat betrokke en die oorledene is toe met 'n mes gesteek. Die verdagte is in hegtenis geneem."
Jacobs se pleegma, Linda Losper, was te geskok om enigiets te sê. Haar dogter, Adelaide, vertel dat Somphiwe na sy ma se afsterwe in haar ma se sorg geplaas is.
Die beskuldigde was in aanhouding tot sy eerste verskyning in die plaaslike landdroshof op aanklag van moord. Hy is in sy ouers se sorg vrygelaat tot sy volgende verskyning op Donderdag 13 Oktober.
Teen druktyd was dit nie bekend of hy weer in hulle sorg of in aanhouding sou bly tot 'n volgende verskyning nie.
Volgens Spies word die aanklag deur die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'