Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Om 'n eeu oud te word, is nie vir sissies nie... maar om 105 jaar oud te word en boonop sonder ernstige skete en kwale, is werklik nie vir almal beskore nie.
Só 'n besondere mens is Alida Booyens van Huis Lekkerbly op dié kusdorp. Volgens haar is dit net genade van Bo.
Sy is wel doof in die een oor en kan nie meer mooi sien nie, maar oor die algemeen is haar gesondheid baie goed.
Hoewel Suid-Kaap Forum die vorige week voor haar verjaarsdag daar was met hul Goue Oues-projek om aan haar 'n geskenk te oorhandig, is sy weer op dié spesiale dag op 30 Januarie besoek.
Boonop het die koerant ook die uitvoerende burgemeester, rdl. Grant Riddles uitgenooi om die geleentheid by te woon. Op sy beurt het hy aan haar 'n sertifikaat oorhandig as aandenking van die groot dag.
Sien 'n video hieronder:
"Al medikasie wat sy gebruik, is 'n halwe bloeddrukpil soggens. Die ander pille wat sy drink is alles vitamienaanvullings," sê sr. Enid Louw, eienaar van die tehuis. Alida is op Belfast gebore en getoë. Haar man het haar op 69-jarige ouderdom ontval en uit die huwelik is een seun, Willem, gebore wat self al 70 jaar oud is.
"Ons het altyd seevakansies gehad en Willem het later jare vir hom 'n huis hier gekoop, daarom is ek ook nou hier," vertel sy. In 'n stadium het sy gevra dat sy ook, soos haar man, maar die lewe kan verlaat. Haar seun het haar egter berispe en gesê dat sy dankbaar moet wees omdat sy nog lewe, omdat haar doel op aarde nog nie afgehandel is nie.
Lees 'n vorige artikel hier: Hessequa inwoner word 105
Van links is Alida Booyens, rdl. Grant Riddles en sr. Enid Louw. Foto: Wilma Adamson
Lida Booyens, soos wat almal haar ken, se verjaardagkoek.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'