HESSEQUA NUUS Dié streek is daarvoor bekend dat baie van sy inwoners - en veral die skoner geslag - nogal 'n gevorderde ouderdom bereik.
Dié oues van dae het verskillende redes vir hul hoë ouderdom gegee, soos gesond leef en eet en hul geloof.
Een van hulle het genoem dat 'n glasie rooi wyn elke dag ook nie skade doen nie.
Maar die mees algemene rede is om besig te bly met hand en verstand.
Suid-Kaap Forum het met ons Goue Oues-projek die voorreg gehad om geskenke aan 'n paar dames te oorhandig wat vanjaar onderskeidelik 100, 102, 104 en 105 jaar herdenk het.
Alida Booyens was in Huis Lekkerbly op Stilbaai ten tye van haar 105de verjaarsdag in Januarie en Babs Vermaak, ook van hierdie tehuis, het in Augustus haar 102de geboortedag herdenk. Albertinia Versorgingsdienste spog met Dikkie Oosthuizen wat in November 104 jaar oud word. Lettie Weltz het op 25 Augustus haar 100ste verjaarsdag gevier en Sarah de Jager word op 13 September 100. Siena Fredericks van Slangrivier het op 1 September 104 jaar oud geword.
Hoewel hulle reeds oorlede is, het Jan Duminy in 2013 die rype ouderdom van 109 geword (hy is die volgende jaar voor sy verjaarsdag oorlede) en Hendrik Bohnen het 102 geword voor hy oorlede is. Albei was van Ou Meule op Riversdal.
Lettie het beaam dat besig bly haar geheim is. Sy sien en hoor nog goed, is baie gesond en sy bly aktief. Met die koerant se besoek was sy juis besig om Bingo saam met ander inwoners te speel. Alida het gesê dat 'n gesonde leefstyl, maar veral haar geloof haar deurgedra het. Siena (ant Ties) spog dat sy nie op enige medikasie is nie en dat sy nie eens kan onthou wanneer sy laas by die kliniek of hospitaal was nie. Sy is net 'n bietjie doof.
Ons sal graag wil weet van nog inwoners wat vanjaar 100 jaar of ouer word. Skakel Wilma Adamson by 028 713 2468.
Dikkie Oosthuizen (104) van Albertinia.
Sarah de Jager (100) van Albertinia.
Babs Vermaak (102) van Stilbaai.
Siena Fredericks (104) van Slangrivier.
Alida Booyens (105) van Stilbaai.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'