RIVERSDAL NUUS - Die meeste mense het dié naweek lafenis op die Hessequa-streek se blouvlagstrande geniet, maar amptenare van die streek se deelnemende politieke partye het voornemende kiesers in snikhete gewerf.
Stemgeregtigdes kan nog tot vyfuur vanmiddag geskiedenis maak en deel word van ‘n verkiesingsmylpaal. Oor die 27 miljoen kiesers is reeds op die nasionale verkiesingslys; die meeste nóg sedert die instelling van demokrasie dertig jaar gelede in die land.
Duisende Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon en werk, het verlede week by die land se verskeie ambassades geregistreer. Talle veroordeelde misdadigers in die land se 200 korrektiewe instellings het tot Vrydag ook hul reg benut om in vanjaar se verkiesing vir verandering te stem.
Gister, in Riversdal, het die DA, VF Plus en die EFF hul stemwerwers by die burgersentrum ontplooi en die PA het by hulle in Kwanokuthula en by Riverville aangesluit.
Hessequa het tans nagenoeg 72 000 inwoners, waarvan nagenoeg 54 000 stemgeregtig is. Slegs sowat 35 000 het egter geregistreer om te kan stem.
Hessequa se inwoners wat nog nooit gestem het nie, word aangemoedig om een van die streek se 25 registrasiepunte te besoek om te registreer of om hul stemstatus te verifieer. Registrasie sluit vanmiddag vyfuur.
Stemgeregtigde kiesers kan ná die naweek steeds by die streek se munisipale kantore of aanlyn registreer totdat president Cyril Ramaphosa die verkiesingsdatum in die staatskoerant proklameer. Volgens Granville Abrahams, die nasionale hoofbestuurder van verkiesingsoperasies, behoort die verkiesing op 22 Mei vanjaar plaas te vind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’