SLANGRIVIER NUUS - Gerald Boezak, nuutverkose Hessequa-raadslid vir wyk 4 wat Slangrivier, 'n gedeelte van Heidelberg, asook Vondeling en Witsand insluit, is daarvan oortuig dat die DA die antwoord vir Hessequa en die land se toekoms is.
Boezak, wat homself as 'n 'groentjie' in die politiek beskou, noem dat hy alle sektore in die gemeenskap as belangrik beskou, maar dat hy baie op die jeug wil fokus, aangesien hulle die toekomstige leiers is.
Volgens hom het hy dit nie voorheen belangrik geag om te stem nie en dat hy vir die eerste keer sy stem tydens dié tussenverkiesing uitgebring het.Gepols oor wat hom tot die stap oortuig het om tot die politiek toe te tree, het hy benadruk dat hy tot die besef gekom het dat politiek 'n integrale rol in alle inwoners se daaglikse bestaan speel.
"Soos baie ander jongmense het ek my nie sover aan die politiek van die dag gesteur nie, maar het tot die besef gekom dat ons as jongmense 'n belangrike rol het om te vervul as ons 'n voorspoedige toekoms vir ons demokrasie wil skep. Hoewel ek baie onervare op die gebied is, was die opbou tot die verkiesing vir my 'n waardevolle ervaring en ek het baie daaruit geleer. Die kompetisie was straf, maar dit het my nie afgeskrik nie."
Hy wil ook die kultuur van 'ek worry nie' onder die jeug verander en sodoende 'n voorbeeld vir jeugdiges stel om in die gemeenskap betrokke te raak. Hy wil hom daarop toespits om die groot werkloosheidskrisis, nie net in wyk 4 nie maar oor die hele Hessequa-streek, aan te spreek. "Werkloosheid dra grootliks by tot die vele sosiale euwels wat in die gemeenskappe heers."
Hy noem verder dat hy ook die lot van bejaardes as 'n fokuspunt in sy onmiddellike visier het. "Die goue oues het die pas vir ons jeugdiges berei. Ons is baie dank aan hulle verskuldig." Hy wil ook graag die lewe vir gestremdes vergemaklik deur rolstoele aan hulle te verskaf, asook toegang tot hul erwe en alle gemeenskaplike fasiliteite meer toeganklik te maak.
Hy nooi al die inwoners in die wyk wat sy dienste benodig om nie te huiwer om hom te kontak nie. Hy kan by 076 899 0904 bereik word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'