Gallery
RIVERSDAL VERKIESINGSNUUS - Stemdag in Hessequa se hoofdorp het met ’n byna feestelike stemming afgeskop.
Suid-Kaap Forum se joernaliste en korrespondente in al die buurdorpe het reeds van vroeg af by die stemlokale foto’s en videos geneem.
Nege stemlokale in en om Riversdal het hul deure oopgesluit net toe die son oor die vallei van die Slapende Skoonheid breek. Die gemoedelike stemming, amper soos by ’n kerkbasaar by vier van die nege stemlokale was opvallend en in kontras met die goor verkiesingsnuus wat uit ander oorde landwyd verneem is. Oral is polisielede ontplooi, net ingeval.
Kort na sewe het vier mense reeds hul kruisies by Kruisrivier Primêr getrek. Een van die groot klaskamers van dié skool, wat na 85 jaar se bestaan gesluit het, is deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gehuur vir die verkiesing. Een van die vriendelike verkiesingsbeamptes het vertel hoe hy in dieselfde lokaaltjie, waar nou kerk gehou word, lank terug Sondagskool gegee het. Hy, soos die ander verkiesingsbeamptes, is meestal plaaslike mense. Buite die skoolwerf het ANC-ondersteuners geworstel om ’n tent opgeslaan te kry terwyl een van hulle ’n skuifeldans op maat van die luidkeelse ANC-party-liedjies doen.
By die verkiesingslokaal by Riverville-stadion was daar teen halfagt reeds 85 kiesers deur die stemlokaal met net enkeles wat binne die gebou gewag het om te stem. Buite het die DA- en ANC-tente met mekaar kompeteer om te kyk wie se musiek die luidste is. Onder ’n boompie het ’n verlate VF+-tentjie gestaan.
By Kwanokuthula was teen kwart oor agt reeds meer as 100 kiesers deur die stemlokaal wat in die gemeenskapsaal teen die bult ingerig is. Drie dogtertjies in hul slaapklere het buite die deur gewag terwyl hul ma, Tembeka Willie, binne gestem het.
Buite die heining, links en regs van die hek, het die DA en die ANC hul tente opgeslaan. Tussen die twee tente het ’n drietal tieners hul bes gedoen om kiesers wat dalk nog op die stemdag-vakansiedag wou insluimer, met hul musiekstelsel na die verkiesingslokaal te lok.
By Riversdal-burgersentrum was dit ene orde en stigtelikheid met geen luide musiek nie. ’n Groot gebied voor die burgersentrum tot oorkant die straat is met die OVK se blou lint afgesper. In die sysaal is die kiesers se besonderhede deur verkiesingsbeamptes nagegaan, terwyl die kiesers in die groot saal by verskeie stemhokkies hul kruisies kon trek. Teen 08:10 is hier sowat 66 kiesers by die tellers verby.
Interessant genoeg dat die verkiesings-hokkies almal binnetoe wys.
By navraag is verduidelik dat die hokkies so staangemaak is dat die beamptes kan sien as iemand sukkel om die proses te verstaan.
Buite die sperlint oorkant die straat het die DA se tent voor die Makadas-lokomotief gemmerkoekies uitgedeel terwyl die son oor die NG Moederkerk opkom. By die VF+ se tent het twee ondersteuners gewaak oor leier Pieter Groenewald se portret, terwyl die ANC se karavaan se vriendelike partylede dit amper laat lyk het of ’n mens daar roosterkoek kan koop.
Volgens inligting deur Suid-Kaap Forum se korrespondente het sake op Stilbaai, Albertinia, Melkhoutfontein en Heidelberg ook rustig verloop en daar was vroegoggend nog geen samedromming by enige van die punte nie. Inligting vanuit Witsand, Slangrivier, Gouritsmond en Jongensfontein was teen druktyd nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'