HESSEQUA NUUS - Covid-19 het beslis nie verdwyn nie en is steeds oral om ons. Die Hessequa-streek beleef tans 'n oplewing in nuwe Covid-19-getalle, maar hospitalisasies, sterftes en suurstofverbruik bly laag.
Volgens die nuutste statistiek van die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) was daar 85 nuwe infeksies sedert Vrydag 12 Mei in Hessequa aangeteken. Albertinia het 32 nuwe gevalle, Riversdal 28 en Stilbaai 20.
Die minste nuwe gevalle is aangeteken op Gouritsmond (3) en Melkhoutfontien (2), terwyl daar op Slangrivier, Witsand, Heidelberg en Jongensfontein geen nuwe infeksies aangemeld is nie.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid is van mening dat daar meer gevalle kan wees, aangesien daar tans kriteria is vir toetsing en almal dus nie kwalifiseer om te toets nie.
Na wat verneem word is daar geen onlangse sterfgevalle as gevolg van Covid-19-infeksies in Hessequa aangeteken nie.
Die Omnikron-variant is steeds die dominante variant van die virus in die land en versprei vinnig, maar die goeie nuus is dat mense nie so erg siek word daarvan nie.
Publiek dra nie maskers, saniteer nie
Mense raak laks en dis opvallend dat hulle al minder maskers dra. Dis natuurlik verstaanbaar met die Covid-19-regulasies wat onlangs verslap is. By sommige winkels en besighede in Riversdal byvoorbeeld, geskied sanitering bloot toevallig en word dit nie streng toegepas nie. Van die saniteringshouers is óf leeg óf buite werking.
Dis ook min wat kassiere, veral diegene wat met geld werk, hul hande saniteer.
Departement van gesondheid se kommentaar:
"Dis belangrik dat mense ingeënt moet word, veral met die winter op hande en griep wat wag om toe te slaan," sê Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid. "Inenting moet steeds die eerste linie van verdediging bly."
Sy benadruk dat entstowwe van Pfizer en Johnson & Johnson, wat tans hier gebruik word, steeds die doeltreffendste behandeling teen Covid-19 en sy nuwe subvariante bly.
"Aanvullende dosisse - die sogenaamde boosters - sal groter immuniteit skep wat langer blywend is as die teenligaamreaksie wat van blootstelling aan die virus verkry word."
Suid-Afrika se inentingskoers is teleurstellend laag. Ferreira het veral mense tussen die ouderdom van 12 en 17 en tussen 18 en 35 aangeraai om hulle te laat inent.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'