Sponsored Content
BESIGSHEIDSNUUS - Die Sensus 2022-opname toon dat die George Munisipaliteit sedert 2011 'n bevolkingsgroei van 4,1% per jaar gehad het.
Van Suid-Afrika se 19 intermediêre stede verteenwoordig die syfer die vinnigste groeikoers oor die tydperk.
George het verder die Drakenstein Munisipaliteit verbygesteek as die grootste munisipaliteit naas die Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit in die Wes-Kaap.
Die merkwaardige groeikoers word duidelik geïllustreer deur die aantal huishoudings in George wat oor dieselfde tydperk van 53 549 tot 85 931 toegeneem het.
Volgens die sensus-opname in 2022 toon Mosselbaai Munisipaliteit se bevolkingstatistieke 'n toename van 89 430 tot 140 075 inwoners vanaf 2011 tot 2022. Dit dui op ‘n groeikoers van 4,36% per jaar oor dié tydperk.
Die geweldige bevolkingsgroei het natuurlik 'n verreikende impak op die eiendomsmark in die Tuinroete. Beide kopers en verkopers mag weens die toename in aanvraag in die mark haastig wees om ’n aanbod te maak of te aanvaar.
Om in vaste eiendom te belê, veral in die Tuinroete-gebied, kan 'n baie opwindende onderneming wees, maar sonder begrip vir die wetlike implikasies en praktiese effek van die klousules in die koopkontrak, kan duur misverstande ontstaan. Dit is dus van kardinale belang dat klousules soos die kontrakbreuk-, opskortende voorwaardes- en 72-uurklousules, soos kortliks hierin uiteengesit, noukeurig ondersoek en bespreek word.
Kontrakbreukklousule
Die kontrakbreukklousule is van toepassing wanneer partye tot ’n koopkontrak inbreek maak op 'n kontraktuele reg en hulself skuldig maak aan wesenlike verbreking van ‘n kontraktuele voorwaarde of bepaling. Wanneer die verbreking plaasvind, bepaal die klousule oor kontrakbreuk die kennistydperk waarin die verbreker volgens die kontrak moet presteer, waarna verdere regstappe in ooreenstemming met die klousule geneem kan word.
Indien daar na afloop van die kennistydperk steeds nie aan die bepalings van die kontrak voldoen is nie, kan die benadeelde party die kontrak kragtens die kontrakbreukklousule kanselleer en skadevergoeding eis. Alternatiewelik kan die benadeelde party kies om die toepaslike regstappe te neem om 'n hofbevel te verkry wat spesifieke nakoming van die kontrak afdwing.
Opskortende voorwaardes
Wanneer ‘n koopkontrak ‘n opskortende voorwaarde bevat, sal die werking van die kontrak daardeur vertraag of opgeskort word totdat die voorwaarde vervul word deurdat die toekomstige gebeurtenis plaasvind. Indien die opskortende voorwaarde nie teen die verstrykingstydperk, soos bepaal in die kontrak, vervul word nie, sal die ooreenkoms nooit in werking tree nie en is dit ab initio (uit die staanspoor) nietig.
Daarom sal geen van die partye meer enige kontraktuele eis teen die ander party hê nie.
Indien die opskortende voorwaarde egter teen die bepaalde tydperk vervul word, word die ooreenkoms vanaf die datum waarop dit onderteken is, as bindend beskou. Die kontraktuele bepalings is ook dan afdwingbaar deur die partye.
Opskortende voorwaardes word byvoorbeeld gevind wanneer daar ‘n aanbod is om te koop, en die aanbod onderhewig aan die goedkeuring van 'n lening van 'n finansiële instelling binne 'n spesifieke tydperk om die koopsom te finansier is.
72-uurklousule
Wanneer eiendom onderhewig aan 'n opskortende voorwaarde, wat die transaksie nietig sal verklaar indien dit nie nagekom word nie, verkoop word, word 'n 72-uurklousule of voortgesette bemarkingsklousule dikwels by die kontrak ingesluit.
So ‘n klousule poog om die risiko te verminder dat die verkoper onvoorwaardelike aanbiedinge verbeur, wat nie afhanklik van finansiering is nie.
Die verkoper word dus toegelaat om voort te gaan met die bemarking van die eiendom nadat 'n ooreenkoms, onderhewig aan opskortende voorwaardes, aangegaan is. Die koper word vervolgens 72 uur kennis gegee om aan die opskortende voorwaardes te voldoen indien 'n bona fide koper 'n onvoorwaardelike aanbod maak.
Daar is nie ‘n pasklaar oplossing ten opsigte van eiendomsoordragte en verkoopooreenkomste nie. Hierdie ooreenkomste moet dus op spesifiek en gespesialiseerde wyse opgestel word om by die relevante feite en belange van die partye te pas. Indien die kontrakte nie op ‘n gespesialiseerde en individuele basis opgestel word nie, kan dit lei na ongewenste gevolge en duur geskille.
- Artikel deur Aleida Kraamwinkel (LLB) – Assosiaat &
- Johan Potgieter (B.Comm; LLB) – Kandidaatprokureur
Vir verdere inligting, kontak asseblief vir Aleida by aleida@rgprok.com / Johan by johan@rgprok.com of skakel ons kantoor by 044 601 9900. www.rgprok.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’