Gallery
STILBAAI SAKENUUS - Die sake-sterre van dié dorp het Vrydagaand 17 Mei behoorlik geskitter tydens Stilbaai-sakekamer se jaarlikse prestige toekenningsgeleentheid vir uitmuntende besigheidsmanne en -vroue.
Kandidate en gaste is in die gemeenskapsaal, wat in die 'Oscars swart en wit'-tema met liggies en kristalle in 'n towerwêreld omskep is, onthaal.
'n Driegangmaaltyd uit die boonste rakke is voorgesit en almal het heerlik gekuier.
Die gasspreker was Jannie Rossouw, professor in ekonomie en hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en besigheidswetenskappe. Hy het sy toespraak afgeskop met: "Hierdie aanbieding is nie vir sissies nie." Hy het 'n kommerwekkende prentjie van die probleme wat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die gesig staar, geskets.
Suid-Afrika is die 32ste grootste ekonomie in die wêreld en ons grootste mededingende voordeel is ons ligging as portaal na die res van Afrika. Op ons huidige ekonomiese patroon van oorbesteding in die staat en stygende werkloosheid, beteken hierdie voordeel, volgens Rossouw, egter baie min.
Hy reken dat die land 'n ekonomiese groeikoers van ten minste 4% per jaar nodig het om die werkloosheidsyfer af te bring van die 40% waarop dit staan. Maar terwyl die bevolking aanhou om vinniger as die ekonomie te groei, sal werkloosheid en die gepaardgaande armoede 'n tydbom in ons gemeenskappe bly.
Volgens Rossouw lê die oplossings vir die land se ekonomiese probleme in verandering, wat eerstens in die politiek moet plaasvind. Hy stel praktiese maatreëls voor, soos dat daar vir amptenare slegs motors wat in Suid-Afrika vervaardig is, aangeskaf moet word. Met hierdie een stap kan die ekonomie binne een jaar met R38 miljard gestimuleer word. Na dié dosis ekonomiese realiteit was die oorhandiging van die toekennings weer 'n sprankie van hoop. Vanjaar het 126 besighede aan die kompetisie deelgeneem en die gemeenskap het fluks gestem.
Wenners
1. Dienste-ondernemings: Car Care Clinic (goud); Pakketmoles (silwer); Laerskool Bertie Barnard en Just Property (albei brons).
2. Gesondheid en skoonheid: Skin Zone (goud); Fynbos Apteek (silwer); Namo (brons).
3. Kleinhandel: OK Foods (goud); Allegaartjie (silwer); Stilbaai Slaghuis (brons).
4. Vervaardiging, konstruksie en boudienste: André Nel Argitektoniese Dienste (goud); Glasfit (silwer); Deck Divine (brons).
5. Voedsel en drank/reis en toerisme/verblyf en vermaaklikheid: Dave's Kitchen (goud); On the Rocks (silwer); Drie Pikkewyne (brons).
6. Liefdadigheidsorganisasies: Still Bay Animal Protection (goud); Jagersbosch (silwer); Huis Stilbaai (brons).
7. Jong Entrepreneur van die jaar: Didi Serfontein (goud); Postuum Debbie Smith (silwer); Tiaan Visagie (brons).
Die eerste plekke se verteenwoordigers is van links: Car Care Clinic, Still Bay Animal Protection, Jong Entrepreneur van die Jaar, Rean Pretorius (voorsitter), Dave's Kitchen, André Nel Argitektoniese Dienste, Skin Zone en OK Foods. Foto: Deona Aucamp, korrespondent
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'