Agtergrond
Die eerste eienaar is Tobias Jackson, wat destyds met die 300-jarige feesvieringe in 1952 van Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap die deure van Van Riebeeck Motors in Albertinia geopen het. Dis ook waar die naam van die motorhawe vandaan kom. Aangesien Tobias graag 'n Volkswagen agentskap wou betrek by sy bestaande besigheid, was hy verplig om na 'n meer geskikte perseel te soek. Heinrich se pa het die erf waar Van Riebeeck Motors tans gevestig is, aan hom verkoop en na verskeie inspeksies deur Volkswagen is die agentskap goedgekeur en is die gebou volgens planne wat in Duitsland opgetrek is, gebou.
Verskuiwing
Van Riebeeck Motors het in 1957 in Riversdal geopen. Volgens Tobias moes hy vir 'n drie weke kursus vir opleiding by Volkswagen in Uitenhage gaan. Die destydse kursusleier het die eerste dag van die kursus beloof dat die persoon wat 'n 100% slaagsyfer ontvang in die eksamen, 'n Volkswagen-messie sal ontvang. "Ek het 100% gekry, maar ewe skielik wou die kursusleier nie die messie oorhandig nie en ek onthou goed dat die ander studente hul ongelukkigheid uitgespreek het. Wel, ek het toe my messie ontvang," en trots wys hy die messie wat so goed opgepas is en steeds in sy oorspronklike leersakkie is.
Heinrich Hertz; 1970-2012
Hertz het vanaf 1970 by Van Riebeeck Motors vir Tobias gewerk. Na die afsterwe van Frans van Wyk het hy sy aandele oorgekoop en mede-eienaar geword. Vanaf 1988 was Hertz en Frikkie van Rensburg mede-eienaars. Met Frikkie se afsterwe het Heinrich as alleen-eienaar met die besigheid voortgegaan. Weens die herstrukturering by VWSA in 2002 het hy besluit om te spesialiseer in naas-nuwe Volkswagen produkte en dit is hoe die besigheid vandag nog bedryf word.
Bles de Wet, huidige eienaar
Bles het geen bekendstelling nodig nie, want hy is in die motorbedryf sedert 1976 waarvan die laaste 20 jaar in die Suid-Kaap en voor dit in Worcester. In Februarie 2012 toe hy die besigheid oorgeneem het, was Heinrich 42 jaar deel daarvan.
Bles bedank Moov, die verspreiders van Caltex met hul bydrae tot die opgradering, asook al die kontrakteurs vir hul uitstekende diens om die projek so vinnig af te handel om hul weer terug te plaas in besigheid. "Ook 'n baie spesiale woord van dank aan Heinrich wat ingestaan het in hierdie tyd terwyl ek besig was om te herstel van 'n bergfiets ongeluk," het Bles afgesluit.
Die vooraansig van Van Riebeeck Motors na die opgradering voltooi is.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'