Die eienaar en bestuurder, Bertus Olivier van Heidelberg is sy lewe lank in die supermarkbedryf en besit Multisavers al vir 13 jaar. Rienie Michaels staan hom by as assistent-bestuurder en is al 16 jaar hier werksaam. Elizabeth Zulallah is ook reeds vir die afgelope 5 jaar die hoofkassiere.
Die supermark is opgegradeer van slegs toonbank diens na 'n selfbedieningswinkel. In die supermark is ook 'n welbekende slaghuis, drankwinkel en die Askraal pos agentskap.
Die afgelope tyd spog dit ook met 'n outo tellermasjien van ABSA (ATM), 'n baie welkome toevoeging vir die kliënte. Lee-ann Hendriks, bestuurder van die drankwinkel vir die afgelope vier jaar het vanjaar boonop 'n bootreis vir haar pligsgetrouheid en harde werk gewen.
"Ons verskaf 'n groot verskeidenheid ekstras wat te koop aangebied word soos selfoon lugtyd (alle netwerke), koopkrag, vars groente en vrugte daagliks en brandstof," vertel Bertus.
Volgens hom is hulle ook baie betrokke by gemeenskaps organisasies, asook Slangrivier Primêre Skool en pensioenarisse. Vanjaar het hulle op 22 November vir 155 bejaardes in die gemeenskapsaal onthaal. Die supermark verskaf werk aan 17 mense.
Van links is Elizabeth Zulallah en Lee-ann Hendriks, wat albei 'n bootreis van Kaapstad na Walvisbaai vir hul harde werk gewen het en die eienaar/bestuurder, Bertus Olivier.