Die eienaar, Mario Gomes is 'n Riversdaller in murg en been wat hier gebore en getoë is. Hy het sy skoolloopbaan in Laerskool Volschenk begin en by Hoërskool Langenhoven voltooi, waarna hy sy opleiding in die hotelbedryf by die Swellengrebel Hotel voltooi en waar hy tien jaar gewerk het. Daarna het hy 'n pos as voedsel- en diensbestuurder (food & beverage) by Club Mykonos in Langebaan aanvaar, waar hy twee jaar lank werksaam was voor hy diens by The Bay Hotel in Kampsbaai, een van die top vyfster hotelle in Kaapstad in dieselfde posbeskrywing aanvaar het.
"Ek het Nibbling Squirrel as 'n gulde geleentheid gesien. Dit was in die mark en ek het addisionele besigheidsmoontlikhede geïdentifiseer. Die goue geleentheid is aangegryp en stelselmatig is verbeteringe aangebring. Dit was hoofsaaklik 'n winkel en wegneem-ete plek en ek het die moontlikheid raakgesien dat Nibbing Squirrel 'n familierestaurant/skemerkelkiekroeg kan wees en dien as kinderpartytjie venue vir die hele gesin," vertel Mario.
Met sy meer as 19 jaar in die hotelbedryf, het hy begin om die besigheidsmoontlikhede te ontgin. Hy het besluit om die winkel in twee te verdeel om dit vir restaurantgangers meer toeganklik en privaat te maak van die winkeldeel (wat 24 uur per dag oop is), wat duidelik 'n wenresep is. Die beligting is vervang met sagte kerslig om die nodige ontspannende atmosfeer te skep. Nibbling Squirrel is ook toegerus met 'n volledige dranklisensie.
"Dit was vir my belangrik dat die kuierplek nie 'n kroegatmosfeer het nie, maar 'n gemaklike bymekaarkomplek vir kinders, studente, jongmense, middeljariges en ouer mense om sommer net rustig oor 'n ete met 'n skemerkelkie of koffie te kan kuier," sê hy.
Juis daarom mag rokers wel buite by die tafels in die tuin rook om dit vir rokers sowel as nie-rokers aangenaam te maak. 'n Groter Jungle Gym én tuin vir meer spasie is juis op vanjaar se agenda om dit ook vir die kleingoed meer prettig te maak - en om hulle besig te hou terwyl ma en pa hulself geniet. Die kos wat voorberei word, getuig van hoë gehalte, billike pryse en 'n groot verskeidenheid. Dit sluit onder meer in seekos, biefstuk, slaaie, hamburgers en broodjies.
Een van Nibbling Squirrel se spesialiteite is 'n Portugese biefstuk. "Dit word in 'n baie warm gegote yster bord bedien met 'n gebakte eier bo-op en skyfies. Dan word knoffelbotter en wynsous bo-oor gegiet, wat op die warm bord gaar kook van die kombuis na die tafel - en die geur is absoluut aptytwekkend." Die roomys geniet voorrang by oud en jonk en blyk 'n groot gunsteling te wees! Die spyskaarte word op 'n gereelde basis verander om dit interessant te hou en nuwe spyskaarte is binnekort in werking.
Spesiale aanbiedinge is aan die orde van die dag en gereelde kliënte word beloon met lojaliteitskaarte vir koffie en skemerkelkies. "Dit beteken dat hierdie drankies goedkoper is en elke sesde skemerkelkie of koffie is dan gratis."
Euro Café koffiebone word spesiaal vir die restaurant vermeng en is 'n mengsel van Brasiliaanse- en twee Afrika bone wat in Kaapstad gerooster en verpak word. Nibbling Squirrel is die alleenverspreider van hierdie bone (tussen Swellendam en Knysna) en verkoop dan ook die verpakte koffiebone, gemaal of ongemaal, soos die kliënt dit verkies teen groothandelpryse.
Dit is vir Mario belangrik om ook aan die gemeenskap terug te gee, daarom is hy daarop ingestel om by die plaaslike gemeenskap betrokke te wees deur liefdadigheidsinstansies, plaaslike skole en ander instansies te ondersteun.
Nibbling Squirrel is 'n gemaklike bymekaarkomplek vir oud en jonk.