STILBAAI NUUS - Die woelinge rondom die Lappiesbaai-restaurant wil maar net nie gaan lê nie.
Hessequa se munisipale raad het al in 2021 goedkeuring verleen vir die verhuring van ongeveer 7 200 vierkante meter van erf 217 in Stilbaai-Oos.
Dit was vir die gebou waaruit Lappiesbaai-restaurant bedryf word en die gebied daar rondom.
Die munisipaliteit het egter na evaluering van die finansiële en operasionele aspekte, sowel as publieke insette, besluit om eerder 'n area van sowat 240 vierkante meter (slegs die voetspoorarea van die bestaande gebou) te verkoop by wyse van 'n openbare veiling vir die uitsluitlike doel om die gebou op te gradeer en 'n restaurant vanaf die gebied te bedryf.
'n Openbare veiling is uiteindelik op 27 September gehou, maar die raad het die hoogste aanbod wat tydens die veiling aangebied was, van die hand gewys aangesien die aanbod laer was as die reserweprys van die eiendom (soos bepaal deur 'n gekwalifiseerde waardeerder).
Die raad het daarna op 11 Oktober, die vervreemding van 'n gedeelte van ongeveer 494.07 vierkante meter van erf 217, Stilbaai-Oos, by wyse van 'n openbare veiling in beginsel goedgekeur.
Die voorwaardes van toepassing op die voorgestelde vervreemding soos goedgekeur deur die raad op 11 Oktober 2023 is in Suid-Kaap Forum, op die munisipale webtuiste en op die kennisgewingbord by Stilbaai se munisipale kantoor geadverteer vir publieke insette.
Die sluitingsdatum vir publieke insette is 24 November.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’