Die Suid-Kaap streek, insluitende die Overberg en gedeeltes van die Klein Karoo is twee van die sewe sub-streke van die Wes-Kaap Boerbokklub en volgens mnr. Johan van Baalen, voorsitter van die klub, is daar op Riversdal besluit omdat die dorp strategies baie goed geleë is om as basis te dien vanwaar die SA Boerbokboere in die twee sub-streke van die klub van opleiding, teelmateriaal, promosiedae en inspeksiedienste voorsien kan word.
Die kursus is bygewoon deur 12 kursusgangers, komende onder andere vanaf Vosburg, Oudtshoorn, George, Beaufort-Wes en Riversdal.
Die poging van die drie kursus aanbieders, naamlik Joubert van der Merwe (Clanwilliam), Pip Nieuwoudt (Nieuwoudtville) en Van Baalen (Calvinia) is beloon deurdat al die kursusgangers wat die teoretiese en praktiese eksamens afgelê het, die kursus geslaag het.
Die beste kursusganger is Jasper van der Westhuizen van Vosburg, wat met 'n uitstekende gemiddeld van 89% geslaag het.
"Volgens die evalueringsverslae wat die kursusgangers voltooi het wil dit voorkom asof almal van hulle hierdie week sal verlang na die ongelooflik smaaklike kos en versnaperinge waarmee Magda Jackson van Enyas Koffiewinkel hulle bederf het!" vertel Van Baalen.
Op 22 Februarie is die eerste suksesvolle klubveiling, in samewerking met KVR Veilings ook op die dorp gehou. Synde 'n eerste poging, is die aanbod beperk tot 20 ramme en 30 ooie. Die duurste ram en ooi is verkoop deur mnr. Danie Schoeman van De Rust aan onderskeidelik mnre. Piet Gouws van Laingsburg (R12 750) en Van Baalen Boerdery van Calvinia (R6 250).
Volgens Van Baalen is die behoefte na hierdie besoek aan Riversdal, aan bystand en hulp met veral die seleksie van kommersiële diere so oorweldigend dat hulle binnekort weer 'n besoek aan die Suid-Kaap-streek beplan om boere in die verband te adviseer. Verdere navrae kan gerig word deur hom saans na 19:00 by 027 341 2357 te skakel.
"Die klub wil ook graag almal op Riversdal bedank vir die vriendelikheid wat ons ervaar het en in besonder die Landbougenootskap vir die gebruik van hul fasiliteite en die plaaslike gastehuis wat so mooi na die kursus aanbieders omgesien het," sluit Van Baalen af.
Die duurste ooi is aan Van Baalen Boerdery van Calivinia verkoop. Hier staan mnre. Dawie van Rensburg (KVR Afslaers), Johan van Baalen (koper), Danie Schoeman (verkoper), Billy Zana (hanteerder) en Koos van Rensburg (afslaer).