LANDBOU NUUS - OPINIE - Bek-en-klouseer moet as n nasionale ramp verklaar word. Om die veebedryf te red, moet regulasies gewysig word om druk van die staat, wat klaaglik in sy funksies gefaal het, na die private sektor en na boere self te verskuif.
Sedert Minister Steenhuisen se aankondiging in November 2025 dat alle beeste (ongeveer 14 miljoen) geënt gaan word, het varke en kallers begin vrek van die siekte.
Die suiwel-, rooivleis en stoetveebedrywe is in n eksistensiële krisis gedompel en die Department van Landbou, wat volgens wet die siekte moet bekamp en bestuur, het grotendeels die boere se vertroue verloor.
Duisende boere is finansieel in die knyp omdat vee nie verkoop of verskuif kan word nie, en melkerye word uit besigheid uitgeknikker. By gebrek aan begrip, wil of aksie van die staat se kant, kyk landboustrukture nou na moontlikhede om n finansieringsmeganisme te ontwikkel wat boere kan help om hulle tydelike kontantvloeinood te oorbrug.
Die minister se aankondiging dat alle beeste ge?nt gaan word, gaan volgens n verklaring van die Departement van Landbou n addisionele finansiële las op boere plaas, wat meer vrae as antwoorde in die sektor veroorsaak.
Die R300 per kop wat boere volgens die Departement van Landbou vir Bek-en-klouseerentstof moet op opdok, is te veel.
Die rampspoedige verspreiding van dié staatsbeheerde siekte is toe te skryf aan die onbevoegdheid van senior amptenare in die department self, en boere, wat reeds R5,6 miljard se verliese gely het, kan nie die rekening vir staatsmislukking ook nog optel nie.
Die Rooivleis Industrie Dienste (RMIS) se mees onlangse aankope van entstof het R60 per dosis gekos. Meer doeltreffende moderne entstof uit Brazilië en Turkye is selfs goedkoper.
Boere vind dit veragtelik dat die staat en tenderpreneurs buitensporige winste uit n nasionale ramp probeer maak, wat reeds honderde boere finansieël geruïneer het. Die staat behoort die totale koste van sy onvermoë self te dra.
In Suid-Amerika is Bek-en-Klouseer uitgeroei deur die regte probleme te erken en deur sterk politieke leierskap aan te spreek, n inklussiewe deursigtige strategie, en breë algemene deelname van almal in die waardeketting, die boere inkluis.
In Suid-Afrika hoef ons net 12 miljoen tot 14 miljoen beeste te ent, terwyl daar in Brazilië 800 miljoen beeste is.
Soos in Brazilië moet die departement die boere toelaat om hulle beeste self te spuit om kapasiteit, koste en tyd te spaar. As boere vir jare al vertrou kan word om teen knopvelsiekte en brusselose te spuit, kan hulle sekerlik ook hulle eie beeste teen Bek-en-klouseer ent.
Na die skandelike debakel toe staatshulp aan toerisme-ondernemings onder Covid-maatreëls tot swart sakelui beperk was, is boere skepties oor die Departement van Landbou se aanbod om vir die inenting van kleinskaal boere te betaal.
Ras mag geen rol in die staat se benadering tot n inentingstrategie speel nie. Beide Saai en Sakeliga het by herhaling al met die departement en met Minister Steenhuisen oor diskrimenerende rasgebaseerde uitvoerregulasies gebots, en sal die toepassing van hierdie aanbod fyn dophou.
Boere se skeptisisme en kritiek teen die departement se hantering van staatsbeheerde siektes, en hulle ontsteltenis oor die buitensporige kostes wat die departement op boere probeer aflaai, het niks te doen met rassisme, weerstand teen transformasie, apartheid of enige van die algemene beskuldigings waarmee die departement elke keer sy flaters probeer toesmeer nie.
As die regte probleme nie erken word nie, kan hulle nie opgelos word nie.
Die departement het nie die kapasiteit om die krisis te hanteer nie, en daar is geen ander uitweg as om met die private sektor in n vennootskap te tree nie. Dit is belangrik dat die private sektor so n vennootskap lei, vry van uitgediende ideologiese oorwegings, korrupsie en nepotisme, en partypolitieke belange.
Dit moet besigheidsin maak, Bek-en-Klouseer onder beheer kry, die rooivleisindustrie red en beesboerdery weer winsgewend en volhoubaar maak. Alle ander agendas moet nou hieraan ondergeskik wees.
Die private sektor kan help om digitale instrumente te ontwikkel om vordering te monitor, leemtes te indentifiseer en betroubare data in te win om die bestuur van die inentingsproses te ondersteun.
Hoewel die departement en die ministerie n swak reputasie het van ontoeganklikheid en uitsluiting van alle belanghebbendes wat op hulle kritiek lewer, noop die Bek-en-Klouseerkrisis dat alle bydraes en insette gakkommodeer word.
Waar sommige gemeenskappe, boere, organisasies, veeartse, dieregesondheidsondernemings of navorsers om kleinlike politieke redes van kommunikasie of deelname uitgesluit word, skep dit leemtes in die nasionale bekampingsveldtog en wantroue.
Die erns van die onbeheerste verspreiding van Bek-en-klouseer laat nie nou vir SEB- of ideologiese oorwegings toe nie.
Politieke belange moet opsy geskuif word en die oorlewing van die veebedryf moet die enigste oorweging in n inklussiewe, deursigtige en doeltreffende nasionale strategie teen die siekte wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’