Die afgetrede plaasbakkies, vragmotors, motors, stilstaande enjins en statige ou trekkers het trots om die arena beweeg en baie aandag getrek. Die stilstaande Listers en ander landbou-enjins het elke keer die koppe laat draai wanneer een sy kenmerkende spoeg-spoeg geluide oor die terrein stuur. Een van die enjins het 'n maalmasjien getrek waarmee mielies gemaal is en baie skougangers betower het.
Die landbouvoertuie het egter die mooiste stories na die skou gebring. Baie van die ou voertuie en enjins het iewers op 'n plaas afgetree en in wind en weer gebak totdat 'n geesdriftige entoesias opgedaag het.
So is daar die verweerde ou 1948 Chev van Hannes Basson van Beaufort-Wes wat vir 30 jaar lank in die veld naby Willowmore die elemente trotseer het. Die verf was kol-kol afgeskroei, die bekleding aan flarde gebrand en die stof dik op die basiese ou enjin.
Basson het besluit om die ou veteraan minimaal te restoureer sodat almal kan sien hoe taai die voertuie van toendertyd was.
Intussen het hierdie Chev, wat 'n groot deel van die kalklig op die skou gesteel het, al baie bruide na die groot stap vervoer.
Kobus Smith, van Mosselbaai, het weer 'n blink-gerestoureerde 1951 Farmall M wat aan die einde van sy werktyd op die plaas in die Vrystaat deur sy vader gerestoureer is. Vandag skou hulle met hierdie trekker waarvan die enjin nog nie eens oop was nie.
Gallie Meyer se 1947 Farmall Super BM kom uit die Sterkstroom-area waar hy die plaas omgedolwe het.
Met die koms van die werktuie het die Farmall in die waenhuis beland waar Meyer hom opgespoor het. Sy vorige eienaar het letterlik trane gestort toe die ou trekker die plaas agterop 'n sleepwa verlaat.
Daar was ook 'n voormalige plaasbakkie wat filmster geword het.
Die 1951 Ford F-100 van Kosie Lamprecht word tans in die treffer-film Faan se Trein, wat naby Klaarstroom geskiet is, gesien.
So is daar 'n storie agter elke voertuig of enjin wat sy kant op die plaas gebring het en later 'n nuwe lewe aan hand van 'n passievolle restoureerder gevind het.
Veteraan- en klassieke voertuie het vanoor die hele land opgedaag om deel van die suksesvolle jaarlikse skou uit te maak. Die eienaars van die ongerestoureerde voertuie wat ook uitgestal is, het skougangers genooi om aanstaande jaar te gaan kyk hoe lyk 'n ou gryse met 'n blinknuwe baadjie.
Christo Terblanche by sy veelsydige "toerbus", 'n Ferguson Vaaljapie. Bokant die drywer dien die opvoutent as sonskerm, agter die sitplek is 'n koelkas, aan die trekstang isa 'n opvoutafel gemonteer en onder die trekker se buik is die leertjie wat gebruik word om in die tent te klim. Met hierdie trekker het hy en sy eggenote reeds verpaaie teen 'n slakkegang aangedurf.
Foto's: Jannie Meyer
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'