Agt organisasies van kleinboere wat in die Heidelberg- en Riversdal-omgewing boer het op 12 Junie dié goeie nuus ontvang en is die langtermyn kontrakte met die Hessequa munisipaliteit geteken vir toegang tot meentgrond. Vir die kleinboere is dié datum 'n historiese dag in Hessequa en 'n oorwinning na 'n jaar se harde werk.
Die langtermyn kontrakte beteken dat die kleinboere in landbou kan belê en ook kan aansoek doen vir borge en befondsing van die staatsdepartement om hul boerdery te versterk. Twee kleinboere van Riversdal kon hul blydskap skaars inhou.
"Ons het vir jare met vuur baklei, maar Hessequa Agri-Forum (HAF) laat my kalm voel," vertel Freek Prins van Jukani. Paulina van Pakhama Kleinboere noem heel in haar noppies "Ek voel soos 'n pasgebore baba!" Linda Kock van die Southern Cape Land Committee (SCLC) noem in 'n persverklaring dat die ooreenkoms 'n mylpaal is. "Hessequa munisipaliteit is een van die min munisipaliteite wat bereid was om hul mandaat ten opsigte van die gebruik van meentgrond na te kom en stel kleinboere in staat om deur landbou hul lewensgehalte te verbeter".
HAF
Die oorwinning is die uitkoms van 'n jaar se harde werk. 18 Kleinboere organisasies het hulself georganiseer op 'n munisipale vlak deur die Hessequa Agri-Forum (HAF). Die doel van HAF is om die stemme van kleinboere sterk te maak. Volgens die voorsitter, mnr. Nicky Scholtz het die forum iets bereik en voortgegaan deur sy mede-HAF-lede, die Southern Cape Land Committee, die departement van landbou en die Hessequa munisipaliteit te bedank.
"Met die kontrakte wat ons vandag geteken het sal ons vorentoe gaan." Hy het afgesluit deur te noem dat HAF dadelik begin het met 'n proses van onderhandeling met die Hessequa munisipaliteit vir meentgrond. HAF is deur die SCLC bygestaan. Die komitee is 'n nie-regeringsorganisasie wat mense ondersteun om grond te bekom en te gebruik.
Hessequa stap die ekstra myl
Die Hessequa munisipaliteit is tans in samewerking met die SCLC en die Hessequa Agri Forum (sambreel organisasie van die kleinboere) in 'n proses om geskikte meentgrond toe te ken aan die verskillende kleinboer-verenigings. Die onderskeie dorpe sluit in Melkhoutfontein, Albertinia, Riversdal en Slangrivier waar gedeeltes reeds toegeken is aan die kleinboere.
Die dorpe soos Vermaaklikheid, Gouritsmond en Melkhoutfontein het nie voldoende meentgrond vir boerdery aktiwiteite nie en is daar prosesse aan die gang om addisionele grond te bekom. Susan Vosloo, Hessequa media beampte noem aan Suid-Kaap FORUM dat hierdie samewerking met die kleinboere ten doel is om hulle 'n geleentheid te bied om hulself ekonomies te bemagtig. Vosloo noem ook dat die meentgrond slegs gesien word as 'n geleentheid om te begin met 'n boerdery.
Bestuur
Die bestuur van die kleinboere is Sheila Pietersen (sekretaresse), Dirk van Wyk (vise-voorsitter), Johannes Hartnick, Nicky Scholtz (voorsitter), Thoma Meyers (tessourier), Rose-Linda Kock en Patrick Sambo (beide Southern Cape Land Committee).
Kleinboere van Riversdal en Heidelberg saam met mnr. Hendrik Visser (middel) van die Hessequa munisipaliteit.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'