"Ons is opgewonde om aan te kondig dat mnr. Willie Meyer onlangs as uitvoerende bestuurder: Veilings en Lewendehawe by ons aangestel is," sê mnr. Wim van Rooyen, hoofbestuurder van die divisie. Die divisie se veilingsbesigheid skep 'n mark vir die veeprodusent se produk, sê Van Rooyen.
Die divisie se afdeling vir veilings en lewendehawe bestaan uit die veilingsbesighede in Bloemfontein, Kimberley en Humansdorp. Dié afdeling ontwikkel sy besigheid op 'n dinamiese wyse en 'n streekkantoor met mnr. Meyer aan die stuur, is onlangs in Bloemfontein geopen.
Die Bloemfontein-kantoor sal by die huidige streekkantoor in Kimberley aansluit en sal aanvanklik konsentreer op die verhandeling van groot- en kleinvee deur middel van uit-die-hand-transaksies. Die kantoor sal egter ook verslagtings hanteer en veilings aanbied.
GWK het onlangs onderhandelinge suksesvol voltooi om die bestaande Karoo-Ochse-veilingsbesigheid op Humansdorp te bekom. "Dié transaksie vorm deel van GWK se Vei-lingsbesigheid se uitbreiding na die Vrystaat en Oos-Kaap," sê Meyer, wat Woensdag, 7 November in Riversdal was tydens hul Vetvee Skouveiling. GWK sal voortaan veilings vanaf die Noord-Kaap tot in die Vrystaat, Oos-Kaap en die Suid-Kaap aanbied. 'n Omvattende lewendehawe-diens sal vanuit die Humansdorp-kantoor aangebied word, insluitend veilings op Swellendam, Riversdal, Humansdorp, Jansenville en Fitche's Corner.
GWK is betrokke by groot- en kleinvee-veilings, asook stoet- en wildveilings. Veeverkryging en die fasilitering van transaksies tussen produsente vorm deel van die diens wat deur die divisie gelewer word. Die maatskappy se omvattende reeks produkte en dienste word deur ses divisies aangebied: Graandivisie, Spesialisprodukte, Primêre Produksiedivisie, Veilings, Vleis en Supermarkte, Handelsdivisie en Korporatiewe Dienste.
GWK streef daarna om te innoveer met kliëntgerigte, kreatiewe oplossings en energieke implementering. Die maatskappy se waardes soos integriteit en sosiale verantwoordelikheid is ononderhandelbaar. Inves-tering in die gemeenskap is deel van hoe hulle besigheid doen.
* Pryswenners van die Vetvee Skouveiling
is: Kampioen slaglam - Jaco van Rensburg. Kraal, 20 lammers - De Jager Boerdery, Blombos. Kraal, 20 ooie - A.P. van Wyk. Kampioen slagbees - De Jager Boerdery, Blombos. Kampioen slagkoei - Piet en Willie Lotz. Groep van 2 osse/verse (ongewissel) - Piet en Willie Lotz. Groep van 2 osse/verse (gewissel) - De Jager Boerdery. Groep 10 speenkalwers - Piet en Willie Lotz. Beste slagvark - J. Booyens. Duurste vark - C.J. Pretorius.
Volgens Gerhard Oosthuizen, veebemarker van Riversdal was dit 'n baie goeie veiling met 'n omset van R3.4 miljoen en hy gee alle eer aan ons Hemelse Vader. Hy bedank die kopers en verkopers vir hul ondersteuning regdeur die jaar en wens almal 'n geseënde Kersfees toe.

Renier Zietsman (afslaer), André Visser (veebemarker George), Gerhard Oosthuizen (veebemarker Riversdal) en Willie Meyer (GWK uitvoerende bestuurder: Veilings en Lewendehawe).