STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Sangers het 'n volgepakte gemeenskapsaal Vrydagaand 31 Mei in tagtig minute om die wêreld gevat met pragtige koorsang en duette.
Met die intrapslag het die voorportaal mens onmiddellik weggevoer na verre lande en toe Mike Steytler boonop 'n paspoort in jou hand stop was die tafel gedek.
By die deure is 'n sagte kollekte opgeneem en volgens Mike trek hulle al hulle onkostes af en die fondse wat oorbly word tussen verdienstelike organisasies soos Jagersbosch en Huis Stilbaai verdeel. Die afgelope drie jaar is meer as R100 000 op hierdie manier uitgedeel.
Die Seisoene Sangers, wat uit mans- sowel as damesstemme bestaan, onder leiding van hulle koorleier Anine Fourie, het Skotland tot in die saal gebring met hulle vertolking van Mull of Kintyre. Hulle het ook met die pragtige Lullabye 'n Amerikaanse geurtjie gebring.
Pierre Bruwer en Ilse van der Merwe het Noord-Afrika vertolk met Desert Song wat hulle met soveel gevoel gesing het.
Hanlie Lubbe het die Disas Engeland toe gevat met Gentle Avon en Fields of Gold waarna die Asters Mexican Surprise gesing het.
Toe was dit die beurt van die Mannekoor met Naomi van Schalkwyk, die koorleier, om Cockles and Mussels uit Ierland, Arriverderci Roma uit Italië en Shenandoah vanuit Noord-Amerika te bring met hulle pragtige diep stemme.
Antoinette Hayman en Deona Aucamp het die eerste helfte van die program afgesluit met hulle pragtige vertolking van Al lê die berge nog so ver.
Die Mannekoor het die tweede helfte van die aand afgeskop met Australië se Pub with no Beer en Twelve Robbers uit Rusland.
Die Disas het Fröliche Fräuleins uit Duitsland gebring, met China se Nine Million Bicycles gery en afgesluit met Ut'he Wena uit Suid-Aftrika waarna 'n sanggroep bestaande uit 8 lede Cotton Fields en Ou Ryperd tegelykertyd met twee groepe gesing het sonder om 'n noot te mis.
Die Seisoene Sangers het Kaalvoet in die Reën en Winter in die Breëriviervallei uit Suid-Afrika gesing en afgesluit met 'n ABBA-medley uit Swede.
Almal saam het die aand afgesluit met Amigos Para Siempre uit Spanje en is toegejuig met die gehoor op hul voete.
Die aand het gans te gou verbygevlieg, maar musiekliefhebbers kan hulle klaarmaak vir 'n spogkerskonsert in Novembermaand.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’