RIVERSDAL NUUS - Die Rainbow Community Church Worship Team (RCC) in Riversdal het die Hessequa-streek en sy inwoners weer rede tot groot vreugde gegee ná hul optrede op die kykNET-program Koortjies.
Die koor het verlede Sondag in Milnerton in die Kaap by Atlantic Studios aan die gewilde TV-program deelgeneem.
Koortjies word deur die gewilde Jonathan Rubain aangebied en is verlede Sondagaand om 18:00 regstreeks op kykNET uitgesaai.
RCC het een van hul eie liedjies gesing - Die Bevel, wat deur koorlid Darren Pieterse gekomponeer is.
Darren het dit ter nagedagtenis aan sy oorlede pa, apostel Pietie Pieterse, geskryf. Hy is in 2022 oorlede.
Darren het aan Suid-Kaap Forum gesê dié optrede was die grootste hoogtepunt in die koor se 15-jarige bestaan. Hy vertel sy pa en die aanbieder Jonathan Rubain was groot vriende, maar Rubain kon weens werksomstandighede nie sy pa se begrafnis bywoon nie.
"Maar as blyk van waardering vir hul jare lange vriendskap, het hy my belowe dat hy die koor gaan nooi om op Koortjies op te tree. Dié belofte het hy nou nagekom," sê Darren.
Die lied het beslag gekry nadat Darren se pa oorlede is. "Ek was op die punt om boedel oor te gee en het nie geweet watter kant toe nie. Sy dood het my in 'n diep depressie gelaat.
"Maar toe put ek inspirasie uit die Bybel uit Josua 1 vers 9 wat lees: "Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan."
Darren sê dié boodskap is vir almal daarbuite wat geen uitweg sien nie, wat voel dat die enigste uitweg is om op te gee."
'n Koorlid Danielle Bots skryf die koorlede kan bars van trots. "Ons kon dit nie gedoen het sonder die inwoners van die Hessequa-streek wat agter ons gestaan en ons ondersteun het nie.
Die koorlede van die Rainbow Community Church Worship Team (RCC) in Riversdal wat op die kykNET-program Koortjies opgetree het. Van links: Macnolea Pieterse, Gwendolene Francies, Josua Pieterse, Jonathan Rubain (aanbieder van Koortjies), Darren Pieterse, Danielle Botes en Adele de Lange.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'