TUINROETE NUUS - Op Donderdag 24 November kan vier plaaslike professionele musikante se talente ervaar word wanneer hulle om 19:30 tydens 'n konsert, A Touch of Christmas, in die NG Moedergemeente Mosselbaai se Klipkerksaal optree.
Dié vier musikante, Phyllis Goldblatt (sopraan), Olga Schoeman (harp), Olive Sandilands (klavier) en Louise van Wyk Visser (fluit) het op Saterdag, 12 November die gehoor in Stilbaai gaande gehad toe hulle A Touch of Christmas daar uitgevoer het.
"Die Suid-Kaap kan trots voel op hierdie vier professionele musikante wat vir die eerste keer as 'n ensemble saamgespeel het en ons hoop ons gaan nog baie van hulle hoor - hulle is ongetwyfeld wêreldklas. Hulle het 'n voortreflike program aangebied wat hulle talente en tegniek uitmuntend demonstreer.
"As 'n ensemble is hulle aanvoeling vir mekaar instinktief en hulle uitvoering seepglad, " sê Jeanne Pienaar van die Mosselbaai Kunstevereniging.
Rutter se Suite Antique, Mozart se Konsert vir Fluit en Harp, O Holy Night, Ave Maria, Alleluia Amen en Hasselmans se Gitana Caprice is net 'n paar van die items op die program wat 'n luisterfees is - en ook baie gepas vir hierdie tyd van die jaar is.
Kaartjies vir hulle konsert in Fraaiuitsig op 25 November is reeds uitgeverkoop.
Slegs 'n paar sitplekke vir die Mosselbaai-konsert is nog beskikbaar. Toegang beloop R120 per persoon en vir verdere inligting kan Abé Meintjes by 083 268 3718 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'