STILBAAI NUUS - Die opgewondenheid bou behoorlik op namate Arte Muzik se La Musica-skouspel al hoe nader kom.
Die skouspel, wat deur plaaslike kunstenaars aangebied en opgevoer word, vind op Donderdag en Vrydag, 10 en 11 September, plaas.
Suid-Kaap Forum het Maandagaand gaan inloer terwyl die kunstenaars hard aan die werk was om die laaste voorbereidings af te rond.
Johan en Mariqi Erasmus hou die leisels stewig in die hand met die musikale en verhoogafrigting. Mariqi is ook verantwoordelik vir die besondere projeksies wat elke lied visueel tot lewe bring.
Saam met Toini van Heerden word daar intussen fyn aan die choreografie geskaaf om seker te maak dat elke beweging, kostuum en beeld perfek met die musiek saamsmelt.
Agter die skerms word daar onverpoos geoefen, kostuums afgerond, bewegings ingeoefen en musiek verfyn.
La Musica beloof 'n onvergeetlike aand van musikale skouspel, geliefde melodieë en kleurvolle kostuums te wees.
Die verhoog word gereed gemaak, die musiek wag en binnekort gaan die gordyn oop vir 'n produksie waarin Stilbaai se plaaslike talent die kollig sal steel.
Besprekings is reeds oop by Mariqi Erasmus by 082 754 7463.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’