Die bekende televisie persoonlikheid, Crystal-Donna Roberts van Pasella en 7 de Laan was die gasspreker. Dié galavertoning het verskeie dramagroepe in die Hessequastreek die kans gebied om hul stukke op die verhoog voor Roberts, 'n voormalige onderwyser ten toon te stel.
Nodeloos om te sê, sy was baie beïndruk met die kwaliteit van die vertonings, maar het nie geskroom om kritiek te lewer nie. Sy het egter ook baie lof gehad vir verskeie van die aspirant akteurs wat om raad na die vertonings by haar aangeklop het.
Die plaaslike groep het die bekroonde Up in Smoke wat deur William Michaels geskryf is en waarin hy die hoofrol vertolk en die regie behartig, opgevoer. Michaels het onlangs die rol van Tjopper in die kykNet-reeks Liefste Kyla vertolk. Hy is weer van Oktober af terug in Liefste Kyla en ook in Villa Rosa te sien.
Dié drama wat die huidige toedrag van sake, veral onder die jeug met betrekking tot dwelm- en drankmisbruik uitbeeld, was goeie stof tot nadenke vir die viering van die 19de Vryheidsdag. Volgens Annelene Hartnick, voorsitter, is dié vertoning die eindproduk van die Kairos dramagroep se uitreik en opvoedkundige projek. Die groep doen dit jaarliks in samewerking met die Wes-Kaapse departement van sport en kultuur.

Williiam Michaels en Melloney Marais vertolk die rolle van Antie Miena en David in "Up in Smoke".
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg | Tuinroete nuus'