PRINS ALBERT NUUS - Dis byna tyd vir boekliefhebbers om in die pad te val vir Prins Albert se 6de Leesfees vanaf 3 tot 5 November.
Vanjaar se Leesfees-tema is, In die gees van die Karoo – The Soul of the Karoo, met bekende en gewilde romanskrywers, digters, musici en stemkunstenaars, ’n komediant en twee films op die spyskaart.
Die gesprekke, aanbiedings en verhoogproduksies sluit in die bekendstelling van splinternuwe fiksie en nie-fiksie, onderhoude met gewilde skrywers oor hul topverkoperboeke en paneelbesprekings oor kwessies in die boekewêreld.
Dit sluit onder meer in ’n bespreking oor die gewildheid van misdaadfiksie en misdaad-nie-fiksie in Suid-Afrika, met Mike Nicol (Staatsrotte/Agents of the State) en Rudie van Rensburg (Piranha en Kamikaze); ’n bespreking oor die groei in kinderboekpublikasie in Suid-Afrika, met Wendy Maartens, prof Dorothea van Zyl (stigter van die Stellenbosse Woordfees) en die illustreerder Janienke van Zyl as gespreksgenote; asook oor die bydrae van Karel Schoeman tot die Suid-Afrikaanse letterkunde, waaraan die uitgewer Nicol Stassen (Protea), Cas Wepener (Die reis gaan inwaarts – die kuns van sterwe in die werke van Karel Schoeman) en prof Bernard Odendaal gaan deelneem.
Die oud-staatsaanklaer Glynnis Breytenbach (Rule of Law), Mohale Mashigo (The Yearning) en Sarah-Jane King (Killing Karoline) en Simon Witbooi, oftewel Hemelbesem (God praat Afrikaans) is deel van die opwindende program.
Die Anglo-Boereoorlog is deesdae ’n gewilde tema in fiksie- en nie-fiksie-boeke en is ook by die Leesfees op die spyskaart met Joyce Kotzè (The Runaway Horses), die vertaler, Daniel Hugo (Wintersrust) en Carel van der Merwe (Donker Stroom).
Die kunstenaar, kunsskrywer en kunshistorikus Elza Miles het ’n reusebydrae tot die Suid-Afrikaanse kunstoneel gelewer.
Die kunsjoernalis Johan Myburg gaan saam met haar terugstap op haar kunspad. Maar Johan is ook ’n digter, en gaan meer vertel oor sy hoogaangeskrewe bundel, Uittogboek, wat vanjaar groot opslae gemaak het.
Soos in die verlede word daar ook voorsiening gemaak vir poësieliefhebbers met optredes deur Gaireyah Fredericks, Daniel Hugo, Johan Myburg en Prins Alberter, Hugh Forsyth.
Vanjaar se Leesfees bied meer as net die geskrewe woord. Daar is twee films op die spyskaart: Die hoogaangeskrewe Krotoa en die werk van ’n plaaslike filmvervaardiger, Hélène Smit (Eerstewater) sowel as 'n optrede deur die komediant Nik Rabinowitz en woord- en musiekaanbiedings deur Tribal Echo, deur Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert en vier Wes-Afrikaanse sangers.
Die aanbiedingslokale is die Jans Rautenbach Schouwburg, Depth Leadership-sentrum en The Showroom Theatre.
By die hooflokaal (Jans Rautenbach) sal eet- en drinkgoed te koop wees. Besoek ook die feesboekwinkel vir die werk van besoekende en ander skrywers.
Die volledige program is op www.princealbert.org.za/leesfees en die Facebook-blad www.facebook.com/princealbertleesfees.
Kaartjies: aanlyn by www.princealbert.org.za/leesfees en die Prins Albert-biblioteek, Kerkstraat, tel 023 5411 014. Vir Afrika my verlange en Nik Rabinowitz, bespreek by The Showroom Theatre, 023 5411 063 of aanlyn, www.showroomtheatre.co.za
Navrae: lkjaquet@mweb.co.za, 073 213 3797.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'