STILBAAI NUUS - Die bestuur van Tuin-Op-Die-Brak, Stilbaai se pragtige fynbospark, het Woensdag 9 September 'n gedenkplaat ter ere van Naomi van Schalkwyk onthul.
Van Schalkwyk was in 2007 een van die mede-stigters van die fynbospark in Stilbaai-Oos en het sedertdien 'n reuse bydrae gelewer om dié besondere tuin tot 'n ware sieraad van Stilbaai te ontwikkel.
Die inskrywing op die gedenkplaat lui: "Met dankbaarheid vir haar onbaatsugtige diens, visie en toewyding sedert 2007. Sonder haar sou hierdie tuin nie gewees het wat dit vandag is nie."
Die waardering vir wat van Schalkwyk oor die afgelope 19 jaar vermag het, was duidelik in die verwelkoming van die gaste deur Willie Delport, oud-voorsitter, die toespraak deur Jan Vorster, huidige voorsitter van Tuin-Op-Die-Brak, en Marié Heese se terugblik op die groot hoeveelheid werk wat Van Schalkwyk oor die jare verrig het.
Hoewel Van Schalkwyk altyd beskeie oor haar rol is, was dit sy wat dikwels die voortou geneem het. Sy was die eerste om te beklemtoon: "Ek het dit nie alleen gedoen nie. Daar was altyd 'n span saam met my op hierdie reis."
Iemand moes egter die leiding neem, en dit het Van Schalkwyk met oorgawe gedoen.
Deur haar en talle ander vrywilligers se bloedsweet, deursettingsvermoë en liefde vir die natuur het 'n barre stuk aarde langs Hoofweg-Oos oor die jare in 'n lushof verander.
Die volgende geslag het nou die aflosstok oorgevat en is reeds besig met planne om Tuin-Op-Die-Brak verder te ontwikkel en nog mooier te maak - tot voordeel van die geslagte wat kom.
Stilbaai het hiermee hulde gebring aan 'n besondere vrou wat nie maklik "nee" vir 'n antwoord aanvaar nie en wat talle hindernisse moes oorkom om iets kosbaars vir die nageslag te help skep.
Naomi van Schalkwyk se nalatenskap leef voort in elke plant, paadjie en hoekie van Tuin-Op-Die-Brak - 'n lewende bewys van wat visie, spanwerk en volharding kan vermag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’