STILBAAI NUUS - 'n Groep entoesiastiese vrywilligers het Donderdagmiddag,16 Julie, die bosse rondom Jagersbosch- gemeenskapsorgsentrum in Stilbaai skoongemaak en binne 'n uur meer as 40 vullissakke vol rommel opgetel.
Gewapen met geel vullissakke, lang knyptange en 'n passie om hul dorp skoon te hou, het die span hoofsaaklik huishoudelike afval uit die digte plantegroei verwyder. Tussen die rommel was daar ook verskeie winkeltrollies en drie grootmaatkoelsakke wat volgens Petrus Lavelot, van OK Foods, by hulle gesteel is.
Die skoonmaakaksie het ook die omvang van onwettige bewoning in die gebied blootgelê. Versteek tussen die bosse, buite sig van die pad, is verskeie geïmproviseerde slaapplekke, braaiplekke en kuierplekke aangetref.
Volgens inwoners wat by die aksie betrokke was, is daar snags gereeld beweging in die bosse waar hawelose mense hulle tuismaak.
Adéle Redelinghuys, algemene bestuurder van Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum, het die vrywilligers vir hul hulp bedank en gesê die sentrum is moedeloos oor die situasie.
"Baie oggende moet personeel eers die stoep skoonmaak en ontsmet omdat dit die vorige nag as toilet gebruik is," het sy gesê.
Die skoonmaak is deur Clifton Donald van die Stilbaai Coastal Cleanup-groep gekoördineer. Hy doen weer 'n beroep op inwoners om betrokke te raak wanneer daar skoonmaakaksies gereël word.
"Selfs al kan jy net een uur van jou tyd afstaan, maak dit 'n groot verskil. Saam kan ons help om die pragtige groen gebied in en om Stilbaai skoon en rommelvry te hou," het Donald gesê.
Belangstellendes wat by toekomstige skoonmaakaksies wil aansluit of meer inligting verlang, kan Clifton Donald by 082 457 1135 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’