STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-fynbosfees vind vanjaar van 24 September tot 3 Oktober plaas en vier die ryk fynbos en besondere biodiversiteit van die Stilbaai-omgewing.
Die eerste Stilbaai-fynbosfees is in 2023 aangebied en was baie suksesvol. Die fees word deur die komitee van Tuin-Op-Die-Brak aangebied, met die bewaring van fynbos deur kennis en bewusmaking as hoofdoel.
Die fees het reeds op Erfenisdag, Donderdag 24 September, met 'n lenteloop deur die pragtige Pauline Bohnen-natuurreservaat afgeskop.
Die agt km-roete het deelnemers deur die lenteprag van die fynbos geneem, met pragtige uitsigte oor die rivier, see en Stilbaai, en natuurlik 'n lekker dosis uitdaging langs die pad.
Die 16-jarige Katja Nothnagel het 'n puik wedloop gehad en sy was die algehele wenner van die lenteloop.
Op Maandag 28 September word die verhaal van die Hessequa Herbarium om 10:00 in Die Waenhuis by Jagersbosch vertel tydens die maandelikse U3A-funksie.
Jolandie Buck van die Gouritz-groepsbiosfeerreservaat (GCBR) praat op Dinsdag 29 September om 11:00 in die Klipgebou by Tuin-Op-Die-Brak oor "Ekologiese Korridors - Die herverbinding van die natuur oor landskappe en dorpe".
Op Woensdag 30 September om 14:00 neem dr. Christina Mars natuurliefhebbers op 'n fassinerende botaniese staptog in die Pauline Bohnen-natuurreservaat.
Woensdagaand is daar ook 'n feesdinee en wynproe by South Easter-restaurant met Lizemari Geldenhuys, wynmaker by Graham Beck MCC. Die geleentheid begin om 18:00.
Op Donderdag 1 Oktober word die Olyf, Druif, & Glasuur-pottebakkery-verfwerkswinkel by Fresh Lemon aangebied. Die werkswinkel begin om 11:00.
Vrydag 2 Oktober om 10:00 is daar 'n gesprek oor inheemse plante vir Stilbaai-tuine in die Klipgebou by Tuin-Op-Die-Brak. Andor Venter, Naomi van Schalkwyk en Anna Francies neem aan die gesprek deel.
Die fees word op Saterdag 3 Oktober afgesluit met 'n Erfenis middagete en stories, aangebied deur die Dames van Melkhoutfontein in die Melkhoutfontein-gemeenskapsaal. Die geleentheid begin om 12:00.
Belangstellendes kan kaartjies en besprekings via Quicket hanteer. Vir enige navrae kan Martjie Fourie by 076 873 8240 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’