STILBAAI NUUS - Hierdie week is dit Nasionale Boomplantweek en Suid-Afrika vier sy ryk verskeidenheid inheemse bome.
Vanjaar is die olienhout (Olea europaea subsp. africana) een van die bome van die jaar - 'n boom wat besonder goed by Stilbaai se klimaat en omgewing pas.
Die olienhout is inheems aan Suid-Afrika, waterwys en gehard. Dit kan wind en kusomstandighede goed hanteer, terwyl sy vrugte voëls lok en sodoende tot biodiversiteit bydra.
Met sy kenmerkende silwergroen blare is die olienhout boonop 'n aantreklike toevoeging tot 'n inheemse tuin.
In Stilbaai, waar wind, sand en beperkte water deel van die natuurlike omgewing is, maak dit sin om bome en plante te kies wat by dié toestande aangepas is, eerder as om voortdurend teen die natuur te probeer werk.
Inwoners kan dié Boomplantweek by Tuin-Op-Die-Brak gaan kuier en ontdek hoeveel pragtige, waterwyse inheemse plante geskik is vir die streek.
Deur plante te kies wat natuurlik in die plaaslike omgewing gedy, kan Stilbaai se tuine nie net mooier wees nie, maar ook meer volhoubaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’