STILBAAI NUUS - Hessequa se omgewingopvoedingspan het gedurende September die pad gevat om boomplantweek op 'n praktiese en prettige manier aan die streek se toekomstige natuurbewaarders bekend te stel.
Die week het by plaaslike kleuterskole afgeskop, waar die kinders van Bollie Konyn en Groenie die Drakie geleer het waarom inheemse plante so belangrik vir die ekosisteem is. Die teorie is sommer vinnig in praktyk omskep toe die twee groepe altesaam 234 groentesaailinge geplant het.
Gedurende die middel van die week het die span hul aandag na laer- en hoërskoolleerders verskuif. Gr. R-leerders van Albertinia Hoërskool het ná 'n gesprek oor die belangrikheid van bome en plante 36 bome en 26 inheemse plante geplant.
Sestig gr. 4-leerders van Melkhoutfontein Primêr het 12 inheemse bome op die skoolterrein geplant.
Die span het vervolgens Kairos Sekondêr besoek, waar 38 gr. 10-leerders meer oor die ekologiese belangrikheid van inheemse plante geleer het voordat hulle 59 bome geplant het.
By Neskuikentjie-dagsorg het 45 kinders ook hul omgewing opgehelder met die aanplant van ses bome en 28 inheemse plante.
Die week is op 'n hoogtepunt afgesluit by die Goukou-estuarium, oorkant Tuin-Op-Die-Brak. Met Anton Chevalier as deel van die program het 45 leerders van Melkhoutfontein Primêr 'n buitelugles oor inheemse bome, die estuarium se duinebos en die belangrikheid van boomplantweek ontvang.
Die leerders het daarna self 'n nalatenskap vir die estuarium geskep deur 57 inheemse bome te plant.
Dit was 'n week van modderige hande, groot glimlagte en 'n tasbare verskil - 'n gepaste herinnering dat die versorging van inheemse plante uiteindelik ook 'n belegging in die toekoms van die gemeenskap en die omgewing is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’