STILBAAI NUUS - Die kragbootjaer, Raynor Becker en sy medejaer, Hugo Erasmus van Riversdal is as nommer een in die Pro Stock-klas in die land aangewys.
Dié span het hierdie gesogte toekenning ingepalm nadat hulle die meeste punte in dié klas tydens die nasionale kragbootkampioenskap aangeteken het.
Becker en Erasmus het die 2017/2018- seisoen as nommer twee aangepak met Inverroche as hul hoofborg. Hulle het aan al vier die rondes van die kampioenskap deelgeneem. Drie daarvan was by die see en een in die binneland.
Ná 'n goeie begin het Becker teëspoed gehad toe hy sy hand tydens die derde ronde gebreek het en geen punte kon aanteken nie. Gelukkig was daar 'n groot gaping tussen die derde en vierde rondes van die reeks wat hom toegelaat het om van sy besering te herstel. Hoewel sy hand nog nie ten volle herstel het nie, het die span die kans gevat om aan die finale ronde wat vroeër die maand by Vanderbijlpark plaasgevind het, te gaan deelneem.
Hulle het hul klas gewen en nadat die jaarlikse resultate verwerk is, het hulle die afgelope naweek, Sondag 24 Junie verneem dat hulle die nasionale Pro Stock-klaskampioene is. Die span is tans besig met voorbereiding om Suid-Afrika by die wêreldkragbootkampioenskap te verteenwoordig wat van 28 September tot 8 Oktober by La Grande Motte in Frankryk aangebied word.
Hulle bedank hul borge, Inverroche Distillery Stilbaai, asook Infanta Inflatables van Swellendam vir hul ondersteuning waarsonder hul deelname nie moontlik is nie. Die span bedank ook al hul lojale ondersteuners.
Die kragbootkampioene, Raynor Becker en Hugo Erasmus in aksie. Foto verskaf.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'