MELKHOUTFONTEIN NUUS - Seagulls-rugbyklub het Donderdagaand 31 Augustus hul 40ste bestaansjaar tydens 'n spoggeleentheid gevier.
Onder die genooide gaste was Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, die hoof uitvoerende beampte van SWD-rugby, Johan Prinsloo, die president van SWD-rugby, Ben Brinkhuis en bestuurslid van SWD-rugby, Jakkie Wessels.
Brinkhuis het genoem dat die klub deur die jare hoogte- en laagtepunte bereik het, maar steeds sterk staan.
"Eendragtigheid en samehorigheid is belangrik. Die klub kyk terug na gister en nie slegs na môre nie. Moet nooit die persone wat die fondasie vir die klub gelê het vergeet nie. Seagulls kan wat vanjaar verkeerd gegaan het, in die toekoms verbeter. Kyk na jul foute en maak dit reg, dan kan Seagulls weer een van die topklubs in Hessequa en SWD wees."
Riddles het beklemtoon dat hy dissipline en nederigheid by Seagulls geleer het. "Ploeg terug in die gemeenskap en bou 'n toekoms vir ons jeug."
In sy toespraak het Prinsloo genoem dat die klub op koers is, maar moet onthou dat jy slegs op koers kan wees as jy jou span, afrigters, leiers en oudspelers erken. "Kyk vorentoe en moet nooit bang wees om te droom nie. Jy moet bereid wees om op te offer, struikelblokke te oorkom en rugby koester. Jul klub moet in orde wees. Rugby maak 'n verskil in mense se lewens en gee leiding in 'n gemeenskap. Behou altyd die liefde vir die spel."
Na afloop van die toesprake is die jaarlikse trofeë aan die topspelers in die klub oorhandig.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'